Local news

Dorpenaar verruil Ermelo vir die Kaap as politikus

Van der Westhuizen sê dat hy sy tyd op Ermelo geniet het. Hy beskryf die dorpsmense as vriendelik en behulpsaam.

ERMELO – Eugene van der Westhuizen, wat homself in 2020 op die dorp kom vestig het en daagliks die inwoners met munisipale kwessies probeer help het, se kort tydjie hier kom binnekort tot ‘n einde.

Hy is onlangs as die visepresident van ChangeSA, ‘n nuwe politieke party, gekies.

Met dié dat die party se hoofkantoor in Kaapstad is, word hy daar benodig en sal in Maart al Ermelo vir die Kaap verruil.

Van der Westhuizen het by die Goudveld-Hoërskool in Johannesburg gematrikuleer en het ná skool onderwys begin studeer, maar moes ongelukkig weens omstandighede staak.

In Mei 1980 het hy by die Spoorweg as ‘n klerk begin werk. “Ek het meeste van my werkloopbaan in forensiese ondersoeke en ouditering gewerk, tot en met 2010, waarna ek uit die bedryf uitgetree het,” het Van der Westhuizen gesê.

Hy het in die toerismebedryf begin werk tot en met die Covid-19-pandemie in 2020.

Van der Westhuizen sê dat hy sy tyd op Ermelo geniet het. Hy beskryf die dorpsmense as vriendelik en behulpsaam.

“Die mense sal my altyd bybly; ek sal hulle nooit vergeet nie. Ek het my tyd hier regtig geniet. Dit was ‘n groot voorreg om die inwoners met munisipale kwessies te help.”

Hy sê dat van die laagtepunte gedurende sy tyd hier beslis die verval van die dorp was, en dat hy in die vier jaar wat hy hier gewoon het, kon sien hoe die dorp agteruitgaan.

“Een van die hoogtepunte was beslis hoe die gemeenskap my ondersteun het tydens die geldinsameling vir my deelname aan die Afrika Meestersatletiekbyeenkoms in November 2023 in Pretoria.”

Hy beplan om sy beste by die nuwe party te gee om die politieke landskap van Suid-Afrika te verbeter.

Hy is steeds op soek na iemand wat die groepe wat hy bestuur by hom wil oorneem.

Hy het die gemeenskap vir hul vriendelikheid waarmee hy altyd behandel is bedank.

Related Articles

 
Back to top button