Local news

Vragmotorbestuurder bestook gesin van Morgenzon glo met klippe

Hy sê sy skoonpa en die bestuurder was besig om hewig te argumenteer toe die bestuurder sy skoonpa met 'n klip teen die lyf gegooi het.

‘n Gesin op Morgenzon is op 13 Maart getraumatiseer gelaat toe ‘n vragmotorbestuurder twee van hulle glo met klippe bestook het.

Leandro Strydom het aan die koerant vertel dat daar op dié aand soos vele kere vantevore ‘n vragmotor voor hul ingangshek stilgehou het.

Sy skoonpa het uitgegaan om die bestuurder te konfronteer oor sy parkering en gevra dat hy die vragmotor moet skuif.

Die klip wat gebruik is om Leandro Strydom in die gesig te slaan. Foto | Leandro Strydom

Hy het ook volgens Strydom foto’s van die vragmotor geneem om dit op hul veiligheidsgroepe te deel om hulp te vra om die situasie op te los.

“Na ‘n rukkie het ek en my verloofde ‘n lawaai in die straat gehoor en gaan ondersoek instel,” het Strydom gesê.

Hy sê sy skoonpa en die bestuurder was besig om hewig te argumenteer toe die bestuurder sy skoonpa met ‘n klip teen die lyf gegooi het.

Hy sê hy het ingespring om die situasie te probeer kalmeer en te vra dat die man eerder sy vragmotor moet skuif.

Leandro Strydom moes steke op sy lip kry nadat hy met ’n klip aangeval is. Foto | Leandro Strydom

“Hy het ons begin vloek en skel, waarna my verloofde ook begin skel het en die man losgetrek het en ons met klippe gegooi het.”

Strydom sê hy kon meeste van die klippe ontduik, maar die bestuurder het na bewering ‘n groot klip opgetel en hom daarmee in die gesig geslaan. Hy het grond toe geval en was vir ‘n kort tydperk nie by sy volle bewussyn nie.

“My skoonpa het my vertel dat die bestuurder in sy vragmotor gespring het en weggery het toe ek die grond tref.”

Hy het beserings aan sy lip opgedoen. Van sy tande is tydens die voorval gekraak en ander gebreek.

Volgens Strydom is vragmotors ‘n groot probleem op die dorp met die bestuurders wat parkeer net waar hulle wil.

Leandro Strydom kort nadat hy met ‘n klip aangeval is.

Hy sê dit is nie die eerste keer dat ‘n vragmotor hul ingangshek blokkeer nie, en dat hulle dit al verskeie kere aangemeld het.

Ná die insident het hulle ‘n saak by die polisie gaan open. Daar is intussen ook konstruksieblokke op die Strydoms se straat aangebring om die vragmotors uit die woongebiede te probeer hou.

Hoëvelder het navrae rakende die voorval aan sers. Paulos Nzimande, woordvoerder vir die Morgenzon-polisie, gestuur en wag vir terugvoer.

Related Articles

 
Back to top button