Ma en kinders verloor alles in huisbrand op Ermelo
Terwyl die gesin by die hospitaal was, het een van haar bure haar gekontak en in kennis gestel dat haar huis weer aan die brand was.

ERMELO – ‘n Ma, haar dogter en twee seuns se lewens is Sondag omver gegooi nadat ‘n brand hul huis in puin laat lê het.
Christelle Louw en haar kinders het bykans al hul besittings in die brand verloor.
Sy sê dat die kinders, 14, 10 en sewe, by die huis gebly het toe sy na die kafee sowat twee blokke van hul huis af gegaan het.
“My dogter het my gebel en gesê daar is ‘n matras aan die brand in een van die kamers. Ek het huis toe gejaag en die vuur met emmers water begin blus, en die brandweer ontbied,” sê Louw.
Nadat die brandweerdienste die brand geblus het en die verbrande matras uitgeneem het, het Louw se ma voorgestel dat sy die kinders hospitaal toe neem sodat hulle vir rookinhalasie ondersoek kan word.
Louw sê terwyl hulle by die hospitaal was, het een van haar bure haar gekontak en in kennis gestel dat haar huis weer aan die brand was.
Die brandweerdienste het hulle weer na die toneel gehaas, maar al die kamers en die badkamer op die tweede verdieping was reeds in vlamme.
Sommige mense het ingespring en hul hulp aan die gesin gebied, en Louw en haar kinders sal vir sowat ‘n week by ‘n gastehuis op die dorp woon, wat hulle ook van kos en skooletes vir die kinders sal voorsien.
Van die meubels wat op die onderste verdieping was en gered kon word, is Maandag na ‘n stoorplek geneem.
Die kinders het ook al hulle skoolklere en -toebehore in die brand verloor, maar die skole het ingestem om die gesin met skoolklere en -boeke te help.
Een van die gesin se honde het beserings opgedoen en is na die veearts geneem.
Lede van die gemeenskap het Maandag by die huis opgedaag om met die skoonmaak en opruim van die huis te help, en Louw sê dat haar hart oorloop van dankbaarheid teenoor al hulle vriende en al die vreemdelinge wat bereid was om hulle te help.
“Ek kan dit nie oorvertel nie. Mense het net hier opgedaag en hulp aangebied. Ek ken meeste van die mense nie eers nie, maar almal is so gewillig om te help waar hulle kan, en ek kan nie genoeg dankie sê nie.”
Op die toneel het Julia Basson van die Care Bears gesê dat klere, badgoed, wintersklere en beddegoed nou ‘n dringende noodsaaklikheid is.
Skenkings kan ook by die Purejoy-waterwinkel in Kerkstraat afgegee word.
“Die mamma dra 36 grootte klere en ‘n nommer agt skoen, die dogter 32 of 34 grootte klere en nommer vyf skoene, een van die seuns dra 11 of 12 grootte klere en nommer ses skoene, en die ander seun sewe tot agtjariges se klere en ‘n kinderskoen nommer 13,” het Basson gesê.
Indien enigiemand kontantskenkings wil maak, kan hulle die Care Bears se rekening gebruik: TymeBank, takkode: 678910, rekeningnommer: 53001541726, verwysing: ‘Brand’.