Phatboys Potspelspan lig die beker in Ermelo
Die beslissende stryd het met ’n kontroversiële breek afgeskop, maar Msimango het rustig vir sy kans gewag om tafel skoon te maak.

Die lede van die Phatboys Potspelklub het op 7 Julie aan die eindstryd van die Mpumalanga-agtballiga by Phatboys deelgeneem.
Ermelo se spanne het gewys wat in hul steek en Phatboys 2 is na afloop van die dag as kampioene gekroon.
Die span, wat bestaan uit Rasta Msimango, Lincoln Mavuso en Neels Botha, het met breë glimlagte die trofee gelig.
In dié liga bestaan die spanne uit drie spelers, wat elkeen teen die ander span se spelers speel.
Die span het Knights 1 se span 5-1 geklop. Msimango het een wedstryd gewen en Mavuso en Botha elk twee.
In die eindstryd het Phatboys 2 teen Da Vinci’s A-team van Bethal te staan gekom.
SIEN OOK: GALERY – Phatboys potspelspelers bied agtbal-kampioenskap aan
Tydens die eerste spel is daar reeds gewys dat dit enige kant toe kan waai, aangesien die spelers van albei spanne uitstekend gespeel het.
Msimango het die eerste wedstryd aangepak en sy teenstander geklop, gevolg deur Mavuso wat dieselfde gedoen het.
Botha het sy eerste spel verloor, maar het weer teruggekom met ’n wen.
Met Mavuso wat sy tweede spel verloor het, het die onus op Msimango se skouers gerus om die span te klop.
Die beslissende stryd het met ’n kontroversiële breek afgeskop. Die Da Vinci-speler het nie daarin geslaag om drie balle oor die middel van die tafel te laat beweeg nie, maar het een bal gepot, waarna hulle aangeneem het dat die breek reëlmatig was.
Na ’n vinnige gesprek om die reëls aan die spelers te verduidelik en aan te dui waarom Da Vinci se speler ’n foutiewe breek gemaak het, het Msimango die besluit geneem dat hy sal breek.
Hy het die wit bal op die breek gepot en so ’n vryskoot aan die ander speler gegee.
Vandaar het die spel uit tegniese skote bestaan, en Msimango het rustig vir sy kans gewag om die tafel skoon te maak.
Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat ’n span van Phatboys dié beker lig.
Enige persoon wat by die klub wil aansluit, kan Botha by 066 476 2060 skakel.