Local news

Geniché se ventilator verwyder ná weke in intensiewe sorg

Ná twee hartstilstande en die bevestiging van breinskade hou ’n oud-Ermelo-gesin vas aan geloof en hoop vir hul nege maande oue dogtertjie. Geniché Ahlfeldt kon onlangs weer self asemhaal, maar haar herstelpad lê steeds voor.

ERMELO – Oud-Ermeloërs hou vas aan hul geloof en hoop terwyl hul nege maande oue dogtertjie, Geniché Ahlfeldt, in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg behandel word ná twee hartstilstande en die bevestiging van breinskade.

Geniché, wat op 25 November nege maande oud word, is op 25 Februarie op 34 weke en vyf dae, met ‘n noodkeisersnee by die Kalafong-hospitaal in Pretoria gebore. Sy is ‘n tweeling en het vyf ouer boeties.

Haar ouers, wat oorspronklik van Ermelo afkomstig is en in 2022 na Johannesburg verhuis het, beskryf haar as ‘n sprankelende dogtertjie met ‘n besonderse geaardheid, ‘n mooi glimlag en ‘n aansteeklike lag.

Sy geniet dit om saam met haar tweelingboetie te speel, in haar loopring rond te beweeg en raak altyd opgewonde wanneer sy haar ma, pa of boeties sien.

Volgens haar ma, Erzsike Ahlfeldt, het Geniché op 21 Oktober die eerste keer mediese hulp ontvang nadat sy nie gesond geword het nie. Sy is aanvanklik met longontsteking gediagnoseer.

Toe haar toestand nie verbeter nie, het haar ouers besluit om ‘n tweede mediese opinie te kry en is sy op 23 Oktober in die Suidrand-hospitaal opgeneem vir behandeling vir kroep en kinkhoes.



Op 25 Oktober het sy haar eerste hartstilstand gehad, waarna sy na die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal. Dit was volgens haar ouers die eerste keer dat hulle haar byna verloor het.

Op 12 November het Geniché ‘n tweede hartstilstand gehad wat ongeveer 20 minute geduur het.
Sy is daarna in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal behandel, waar sy steeds mediese sorg ontvang.

Erzsike het vertel dat daar op 18 November bevestig is dat Geniché breinskade opgedoen het. Volgens haar ouers het ‘n EEG-ondersoek die skade aangedui, maar die omvang en erns daarvan kan nog nie bepaal word nie.

‘n MRI-skandering is nodig om ‘n duideliker beeld van haar brein te kry.

Die gesin wag egter steeds op dié ondersoek en die vertraging beteken dat die mediese span nog nie die volle omvang van die skade kan bepaal of presies kan vasstel watter verdere behandeling sy steeds benodig nie.



Volgens haar ouers het die dokter twee moontlike uitkomste aan hulle verduidelik.

Die eerste moontlikheid is dat Geniché nie sonder lewensondersteunende masjiene sal kan klaarkom nie, wat sou beteken dat haar ouers ‘n uiters moeilike besluit oor die onttrekking van lewensondersteuning sal moet neem.

Die tweede moontlikheid is dat sy wel sonder die masjiene sal kan klaarkom, maar weens die breinskade moontlik vir die res van haar lewe in ‘n vegetatiewe toestand sal wees.

Die dokters het op 20 November die ventilator verwyder nadat sy reeds ongeveer ‘n maand daarop was en Geniché kon daarna self asemhaal.

Sy is op 21 November na ‘n gewone hospitaalsaal oorgeplaas, waar sy vir een tot twee weke gemonitor sal word.

Indien alles goed verloop, kan sy daarna moontlik huis toe gaan. Sy sal egter steeds medikasie benodig en gereeld deur ‘n
neuroloog opgevolg moet word.

Hoewel die jongste nuus vir die gesin ‘n groot rede tot dankbaarheid is, bly daar steeds mediese en finansiële uitdagings.

Die gesin se BackaBuddy-fondsinsameling is steeds aktief, met ‘n teikenbedrag van R50 000. Die skakel vir die fondsinsameling is https://www.backabuddy.co.za/campaign/genich-recovery.

Die geld sal aangewend word vir Geniché se huidige en toekomstige behoeftes, vervoer om haar daagliks in die hospitaal te besoek, asook die nodige sorg en toerusting wanneer sy ontslaan word.

Die fondse kan ook gebruik word om ‘n MRI-skandering privaat te laat doen indien die hospitaal se masjien nie betyds herstel word nie, of indien ander noodsaaklike mediese behoeftes ontstaan wat nie deur die hospitaal voorsien kan word nie.

Haar ouers sê die ondersteuning, gebede en finansiële bydraes van die gemeenskap beteken vir hulle ongelooflik baie.

“Ons wil net uit die diepte van ons harte dankie sê aan almal wat by ons staan, ons ondersteun, vir ons dogtertjie bid en donasies gemaak het. Julle help ons om ons dogtertjie die nodige sorg en ondersteuning te gee,” het Erzsike gesê.

Ten spyte van die onsekerheid oor wat die toekoms vir Geniché inhou, bly hul grootste wens dat sy die hospitaal sal verlaat en weer by haar gesin kan wees.

“Ons sal elke uitdaging aanpak soos dit kom, soos dit God se wil is. Sy moet net lewe en kan huis toe kom waar sy hoort.”

Die gesin bedank almal wat reeds bygedra het en vra dat die gemeenskap sal aanhou bid terwyl Geniché se herstelpad voortduur.

“Saam glo ons aan ‘n wonderwerk. Geniché is ‘n vegter, en ons glo God is groter as die uitdaging.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button