
Ek wonder of daar al navorsing gedoen is om vas te stel wat veroorsaak dat die kalmste en mees bedeesde mens in ’n wraaksugtige, en soms onbeskofte, mens verander sodra hy of sy agter die stuurwiel inskuif?
Dit wil vir my voorkom of selfs al die ou “askies-ek-lewe”- tipe mense ook diepgewortelde bravade en aggressie te voorskyn kan bring sodra die hande ’n stuurwiel vashou.
Nou die dag hou ek by ’n vierrigting-stopstraat in die dorp stil. Daar was reeds twee ander voertuie wat van verskillende rigtings by die kruising aangekom het.
Eintlik het een in ’n bakkie waarvan die bestuurder vir my gelyk het na, kom ons sê, ’n “voedselprodusent” reeds stilgehou en die ander een (in ’n groot wit voertuig wat nie jou alledaagse gesinsmotor is nie en waarin die bestuurder alleen was) het tweede aangekom en nie juis doodstil gestop nie.
Ek het laaste stilgehou, dus moes ek die ander motoriste eerste laat ry. Daar is mos ’n reël wat sê eerste in, eerste uit? Maar Nommer Twee weet blykbaar nie van dié reël nie en hou aan ry voordat Nommer Een kon wegtrek.
Mense! Nommer Een, wat sekondes vantevore ewe rustig gelyk het toe hy by die stopstraat stilgehou het, spring byna deur sy bakkie se dak.
Die fris arms trek styf soos twee parallel ysterstawe en sy hande ruk die stuurwiel terwyl hy sy bolyf vorentoe en agtertoe ruk soos ’n ysbeer in ’n dieretuin.
Die flikkerlig wat aangekondig het dat hy ’n oomblik vantevore regs sou draai, word geïgnoreer en hy pluk die stuurwiel na links.
Met toeter wat blêr en bande wat met opgewondenheid skreeu, trek hy daar weg en draai links, vanuit die regterkantste baan mind you, agter Nommer Twee aan.
Skaars twee honderd meter verder sny hy voor Nommer Twee in, enkele meters voor die rooi verkeerslig. En daar staan hy.
Hier gaan ’n fight kom, dink ek met my joernalis-brein. Voorbladstorie! Ek moet dié road rage -petalje afneem. Waar’s my kamera? Ag nee, dis in die kattebak toegesluit!
Maar Nommer Een klim nie uit nie. Hy sit net in sy voertuig en beloer die naels van sy wysvinger en middelvinger in sy truspieël.
Die ander vingernaels het seker niks makeer nie. Dan sit hy weer rustig en wag vir die verkeerslig om na groen oor te slaan.
Ek raai toe hy moet nou om die blok ry om te wees waar hy wou wees voordat Nommer Twee hom van vyf kosbare sekondes van sy besige lewe beroof het.
Nou maak ek somme in my kop.
Vyf sekondes wou hy nie by die stopstraat prysgee nie, al was Nommer Twee nie reg nie. Maar die drie of vier minute se jaagtog, by die verkeerslig wag en om die blok ry, het baie meer van sy tyd in beslag geneem.
En hy het nie eers ge-fight nie!