Ermelo se Sonja Kirk verander gesondheidsreis in boodskap van hoop
’n Borskankerdiagnose het Sonja Kirk se lewe ingrypend verander, maar 10 jaar later deel sy ’n verhaal van geloof en hoop.
ERMELO – Sonja Kirk se lewe het in Augustus 2016 ingrypend verander toe sy ’n knop in haar bors ontdek het terwyl sy in die stort was.
Sy het dadelik ’n dokter besoek en is vir ’n mammogram gestuur.
Hoewel sy aanvanklik aangeraai is om eers ses maande later terug te keer, het Kirk ’n sterk innerlike drang gehad om dieselfde week ’n tweede opinie te kry.
’n Kansellasie het haar in staat gestel om onmiddellik ondersoek te word, waarna ’n biopsie gedoen is.
Drie weke later het Kirk, terwyl sy by die werk was, die diagnose ontvang van trippel-negatiewe borskanker in haar regterbors en hormonale kanker in haar linkerbors.
Haar behandeling het ’n dubbele mastektomie, bestraling, chemoterapie en plastiese chirurgie ingesluit.
Kirk sê sy het egter gekies om die reis in geloof en hoop te stap.
Die ervaring het ook haar benadering tot gesondheid verander.
Sy sê stres het ’n groot rol in haar lewe gespeel en dat sy moes leer om meer vry en gebalanseerd te leef.
Vir Kirk begin gesondheid by die keuses wat ’n mens elke dag maak, selfs by iets so eenvoudig soos wat jy in jou liggaam plaas.
“Kos is net soos die woorde wat uit jou mond kom – of dit nou goed of sleg is, jy kan dit nie terugtrek as dit eers uit is nie. Dit is dieselfde met kos en wat jy ook al in jou mond plaas: as jy dit eers ingesluk het, bring dit óf skade, óf dit genees.”
Tien jaar ná haar diagnose beskryf Kirk haar reis as “net genade, ombeskryflik groot”.
In Maart 2026 is sy meegedeel dat haar beendigtheid afneem en dat sy osteopenie het.
Die nuus het haar weer laat besef dat sy aandag aan haar fisiese gesondheid moet gee.
Dit het haar geïnspireer om haar “Beter Jy as Gister”-uitdaging, wat van 17 Augustus tot 17 September plaasvind, te begin.
Kirk sê haar doel is om mense te motiveer om meer aandag aan hul gesondheid te gee.
Vanoggend het Kirk nog ’n ervaring beleef wat sy as ’n vars getuienis beskryf.
Omdat limfknope uit haar regterarm verwyder is, moet bloedtoetse al tien jaar lank aan haar linkerarm gedoen word, waar dit volgens haar dikwels moeilik is om ’n aar te kry.
Voor die afspraak het sy vir God gevra: “Net een naald, net een plekkie, asseblief.”
Volgens Kirk is die bloed toe met die eerste poging getrek.
“Net een naald, een aar. Prys die Here!”
Lees meer oor Sonja Kirk se tien jaar lange gesondheidsreis, haar geloof en die ervarings wat haar boodskap gevorm het in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.



