JJ-leerder is nasionale redenaarwenner
Amjee Mentz, ’n gr. 6-leerder van Laerskool JJ van der Merwe is as die nasionale wenner in die gr. 6-7 Afrikaans Huistaal-afdeling aangewys.
ERMELO – Amjee Mentz, ’n gr. 6-leerder van Laerskool JJ van der Merwe is as die nasionale wenner van die ATKV-Redenaarskompetisie in die gr. 6-7 Afrikaans Huistaal-afdeling aangewys nadat sy op 5 Augustus aan die nasionale eindronde by ATKV Klein-Kariba deelgeneem het.
ATKV-Redenaars vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.
Sowat 10 000 leerders van regoor Suid-Afrika en Namibië het vanjaar aan die kompetisie deelgeneem.
Deelnemers moes aanvanklik deur uitdunrondes vorder voordat die beste redenaars na die halfeindrondte deurgedring het.
Amjee het vroeër vanjaar die Mpumalanga-halfeindrondte gewen, wat haar ’n plek in die nasionale eindstryd besorg het.
Die nasionale eindstryd het uit twee afdelings bestaan. Deelnemers moes eerstens ’n voorbereide toespraak lewer en daarna ’n onvoorbereide toespraak aanbied.
Vir laasgenoemde moes Amjee binne 90 minute ’n onderwerp verwerk, haar eie toespraak skryf en vir aanbieding voorberei.

Die uitslae is tydens die prestige-prysuitdeling bekendgemaak. Van die top 26 redenaars in haar afdeling is Amjee as die algehele nasionale wenner aangewys.
Om juis in die 60ste bestaansjaar van ATKV-Redenaars met dié titel weg te stap, maak hierdie prestasie besonder betekenisvol vir Amjee.
Haar ma, Esré, het vertel dat dié prestasis nie net getuig van Amjee se talent as redenaar nie, maar ook van ure se voorbereiding, harde werk, deursettingsvermoë en die vermoë om haar eie stem met selfvertroue op ’n nasionale verhoog te laat hoor.



