Skoutyd is hier!
Wat is tog lekkerder as om heen en weer oor die terrein te stap, "skou"-kerrie en rys, of "skou"-worsbroodjie in die hand?

Dit is weer skoutyd op Ermelo en vir baie van ons wat reeds ‘n geruime tyd op die dorp woon, is Ermelo sonder ‘n skou byna ondenkbaar.
Daarenteen is daar sekerlik ook ‘n klomp mense wat koud staan teenoor die skou, maar hoe dit ookal sy, die Ermelo-skou is eie aan Ermelo. Dis ONS skou.
Ons kan kla dat dit elke jaar dieselfde is, of dat die terrein in ‘n modderige spul ontaard as dit reën en dat dit duur is en… en… en.
Maar helaas, as ons ons weer kry, is ons elke jaar weer daar.
Wat is tog lekkerder as om heen en weer oor die terrein te stap, “skou”-kerrie en rys, of “skou”-worsbroodjie in die hand en na al die interessante stalletjies en snaaksighede te kyk?
Die vaardigheid en vindingrykheid van sommige van die uitstallers is soms verstommend en mens kan nie anders as om hul kunstige handewerk te bewonder nie.
Toegegee, daar is wel stalletjies wat helderkleurige goedkoop plastiekspeelgoed verkoop wat vir ‘n moeë en lastige klein kind onweerstanbaar is. Ja, ons weet ook meeste van die goed is al gebreek voordat ons by die huis kom, maar dit is tog alles wat die skou uniek maak. Ouma en Oupa gee tog nie om om ‘n paar “bederf-randjies” op hul kleinkinders te bestee nie.
Dit is ook vir baie van ons werkende mense die enigste geleentheid om bekende sangkunstenaars in lewende lywe te sien optree, en dit teen die prys van ‘n toegangskaartjie.
Nie baie mense nie besef dat iemand soos die gewilde Juanita du Plessis se uiters suksesvolle sangloopbaan hier by ons Ermelo-skou begin het met haar heel eerste openbare optrede.
Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Ja, dit is skoutyd op Ermelo en of ons daarvoor te vinde is of nie, of verkies dat ‘n “mall” op die terrein moet verrys, maak nou nie meer vanjaar saak nie.
Kom ons gaan en geniet dit, die mense, die kos en die dinge, terwyl ons kan en daardeur ons dankbaarheid teenoor die organiseerders betoon.
Wie weet, volgende jaar dié tyd sit ons dalk uiters verveeld by die huis voor die televisiestel terwyl ons na die soveelste heruitsending van “daai” program kyk en hunker na ‘n bakkie “skou”-kerrie en rys”.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



