Opinion

Van frustrasie tot hoop: Só beleef ons ’n Bokke-nederlaag

Van skeidsregterkritiek tot wedstrydontleding: ná ’n nederlaag probeer elke ondersteuner verstaan wat verkeerd geloop het.

Jy kan die beste week denkbaar hê.

Alles loop reg. Werk verloop heel oukei. Die petrolprys het jou vir ‘n slag nie persoonlik aangevat nie.

Die kinders is rustig, die vrou is gelukkig en teen Saterdagmiddag sit jy by die braai met ’n koue een in die hand.

Dan speel die Bokke teen Nieu-Seeland.

En die verloor, verander die hele atmosfeer.

Jou vrou beweeg versigtiger om jou. Die kinders besluit sommer vanself hulle gaan eerder buite of in hulle kamers speel.

Niemand vra onnodige vrae nie.

Die kos proe skielik nie meer dieselfde nie. Jy byt nou ’n beentjie in die wors raak of ’n stukkie sening in die steak.

Die chutney op die braaibroodjie proe oud en selfs die Sondag, wat nog altyd soos ’n rusdag gevoel het, dra nou ’n vreemde grysheid.

Jy leer baie van ’n mens wanneer die Bokke verloor.

Jou vrou weet om eerder stil te bly. Sy waag nie die woorde: “dis net ’n game” nie.

Die kinders leer dat pa se humeur vandag nie ’n speelgrond is wat hulle wil betree nie.

En talle mans leer, ten spyte van al hul “rugbykennis”, dat hul absoluut niks aan die uitslag kan doen nie.
Maar ons wil weet hoe ons kon verloor het.

Photo of Wayne van der Walt, editor of the Highvelder Newspaper.
Wayne van der Walt, Hoëvelder- redakteur

Eers kyk ons na die skeidsregter.

Van watter land kom hy? Is hy dalk nog suur oor een van ons oorwinnings teen sy land se span?

Ons lees die reëlboek van voor tot agter om te kyk of hy nie iewers aangejaag het nie.

Dan kyk ons weer na die duikslag op Wiese.

“Ag nee man, daai is mos beslis hoog?! Etzebeth is dan vroeër vir iets soortgelyks geblaas!”

Die reëlboek sê dit was wettig.

Nou goed.

Sekondes later kry ons twee geelkaarte en nou begin ons wonder oor daardie drie van die Kiwis.
“Man, daai ou was offside!”

Nou begin die bloeddruk kook.

Want die All Blacks teken scrum ná scrum strafskoppe aan.

Waar is hulle waarskuwing? Waar is hulle geelkaart? Hoeveel keer moet jy nou eintlik dieselfde oortreding maak voordat iemand ’n kaart kry?

“Daai skeidsregter het sy mes in vir ons.”

Later gaan lees ons die reëls en besef hy was meestal reg.

Maar nou is ons klaar moerig.

Want hoe kon ons verloor?

Dan lees ons die kommentare.

Groot fout…

Die Kiwis is skielik baie arrogant, die skeidsregter is ’n skelm en iemand moet dringend vir Rassie laat weet dat ons ’n beter plan nodig het.

Ons speel die wedstryd weer in ons kop.

“Hoekom pass Sacha nie? Bring vir Polla terug. Hoekom sou ons ingeskrum het as ons nog elke skrum oorheers? Hoekom het ons nie dit of dat gedoen nie?”

Ons kan nie net aanvaar dat hulle beter was nie.

Die waarheid is egter dat ons ondersteuners bederf geraak het.

Ons het gewoond geraak aan wen. Ons verwag dit nou. En wanneer ons nie wen nie, is ons sommer vir almal ’de hel’ in.

Die Sondag is droewig.

En dan kyk ons Rassie se onderhoude weer.

Nie omdat ons noodwendig iets nuuts gaan hoor nie, maar omdat ons moet weet wat die plan vir volgende week is.

Want volgende week móét anders wees.

En dis waar ons nasie anders is.

Volgende week probeer ons ’n nuwe slaghuis, die wors beenloos en die steaks sag en daar is nuwe Mrs Balls vir die braaibroodjies in die kas.

Die spelers se vorige flaters is vergewe en die ref vergete. Rassie is weer ’n rugbygenie. Die groen en goud verskyn, die volkslied speel en iewers sing ons saam: “He’s in your head, in your head, Rassie, Rassie…”

En wanneer ons bokke daar staan, staan ons saam met hulle.

Trots op ons span en trots op ons land.

En natuurlik glo ons weer: Hierdie keer gaan anders wees!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button