
Een van my grootste drome het waar geword.
Ek gaan ouma word.
Dit was die mooiste woorde wat ek in ‘n lang tyd gehoor het toe my dogter die nuus aan my oordra.
Daar heers groot opgewondenheid in ons huis en vriendekring en ons kan nie wag vir die klein pienkvoet om sy of haar verskyning te maak nie.
Ek weet dat kinders en veral kleinkinders ‘n stukkie genade uit die Vader se hand is en ek kan nie genoeg dankie sê vir die voorreg wat ons te beurt geval het nie.
Mediaberigte oor ‘n drie-jarige dogtertjie wat deur haar stiefpa doodgeskop is plaas egter ‘n groot demper op my vreugde.
Ek probeer sin maak uit so ‘n sinnelose daad teenoor ‘n weerlose kind terwyl my hart oorloop van vreugde by die vooruitsig van ‘n bondeltjie liefde wat ons gaan kry om te vertroetel en koester.
Die gemengde emosies maak by tye my kop heeltemal deurmekaar.
Dis buite my verwysingsraamwerk om selfs net te dink hoe ‘n groot, sterk man sy toorn en frustrasie op ‘n weerlose kind kan uithaal.
Ons ou babatjie is nog lank nie gebore nie, maar die beskermingsdrang is klaar daar. Ek weet dat ek deur vuur sal loop om hom of haar teen die seermaak-dinge van die lewe te beskerm.
Onmiddellik as ek so sit en dink aan ons baba wat gaan kom, verskyn die drie-jarige dogtertjie se beeld weer voor my en beleef ek ‘n gevoel van magteloosheid teenoor sulke wreedheid.
Niks wat enigiemand doen gaan dié kindjie terugbring nie, maar ek kan maar net bid dat geregtigheid sal geskied en dat die moordenaar op gepaste wyse gestraf sal word.
Intussen dank ek die Vader vir die voorreg om oor ‘n paar maande ouma te word en probeer ek fokus op al die vreugde wat ek weet die kleine mensie in ons lewens gaan bring.