Local sport

Ermelo se eie karateka op pad Mauritius toe

Die jong karateka is gekies om Suid-Afrika in September by die Indo Pacific Cup in Mauritius te verteenwoordig.

ERMELO – Die agtjarige Amerieke Lategan van Laerskool JJ van der Merwe is gekies om Suid-Afrika in September by die Indo Pacific Cup in Mauritius te verteenwoordig.

Wat as ‘n liefde vir die fliek Karate Kid begin het, het binne minder as ‘n jaar verander in ‘n internasionale geleentheid vir ‘n jong Ermelo-karateka.

Volgens haar ma, Liza Thiart, het sy vinnig ‘n passie vir die sport ontwikkel en nog geen kamp, kompetisie of ekstra groepsessie gemis nie.

Sy oefen twee keer per week by die JKA Ermelo Dojo onder leiding van Sensei Madelein Coetzee by die Ermelo NG Moedergemeente.

Hoewel Amerieke nog net agt jaar oud is, het sy reeds van witbelt tot oranje 1 gevorder. Haar harde werk is onlangs beloon toe sy gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig.

“Sy het aanvanklik geskrik omdat sy nie besef het dit is oorsee nie, maar nou is sy bitter opgewonde oor die avontuur wat voorlê,” het haar ma vertel.

Ongeveer 12 lande, insluitend Suid-Afrika, Japan, Australië, Rusland en Duitsland, neem aan die kompetisie deel.

Buite die dojo is Amerieke ‘n saggeaarde dogtertjie met ‘n liefde vir superhelde en die Power Rangers-reeks.
Sy neem ook deel aan die Thunder Merwes by Laerskool JJ van der Merwe.

Ondanks die eise van skool en sport, sê haar ouers Amerieke handhaaf ‘n goeie balans tussen haar verantwoordelikhede. Karate-oefeninge wat later in die middag plaasvind, gee haar genoeg tyd vir huiswerk en gesinstyd.

“Ons glo vas in harde werk, maar ook in welverdiende rus en kwaliteit tyd saam as gesin,” het haar ma gesê.

Haar grootste droom is om eendag self ‘n sensei te wees en ander kinders te leer om hulself te verdedig en selfvertroue op te bou.

Haar ouers hoop sy leer uit dié ervaring dat sy eindelose potensiaal het, nooit moet opgee nie en altyd nederig moet bly.

Vir dié gesin is die geleentheid groot, maar dit bring ook uitdagings mee. Hulle moet R45 000 insamel om die toer moontlik te maak.

Die eerste R25 000 deposito is reeds betaal, maar nog R20 000 word benodig vir vliegkaartjies, verblyf, deelnamefooie, etes en opleiding in Mauritius.

Die gemeenskap se ondersteuning het reeds ‘n groot rol gespeel om die droom lewendig te hou.

“Dit gee weer hoop in die mensdom om te sien hoeveel mense bereid is om te help om Amerieke se droom ‘n realiteit te maak,” het die familie gesê.

Mense wat steeds wil help met donasies kan bydraes maak in die volgende rekening: Capitec; F MYBURGH; Rekeningnommer: 1643157521; Spaarrekening; Verwysing: Amerieke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button