
Die jaar lê op sy rug.
Dis met groot verbasing dat ek oplet dat winkels en restaurante alweer hul kersbaadjies aan het.
Die afgelope jaar was ’n jaar vol verrassings, veranderinge en aanpassings.
Alles wat gebeur het, was egter net weer vir my ’n klinklare bewys dat die mens ’n baie aanpasbare wese is.
Baie gou het ons aangepas by voorgeskrewe veranderinge en voortgegaan soos altyd.
Daar het ’n paar dinge gebeur wat my altyd sal bybly en 2017 nog lank in my geheue sal hou.
My ma se afsterwe byvoorbeeld is daagliks in my gedagtes en ek glo dit sal tyd neem vir dié gedagte om te vervaag.
Die boom wat op ons huis geval het en die skade wat aangerig is, was ook ’n slegte ervaring wat ek nie gou sal vergeet nie.
Die afsterwe van vriende en mense na aan ons, het ons weer na mekaar laat uitreik en die waarde van vriendskap en familie laat besef.
Die jaar het egter nie net slegte dinge ingehou nie.
Nuwe vriendskappe is gesmee, babas is gebore en talle jongmense wat ons ken, het in die huwelik getree.
Met groot verwagting en gebede is hulle die getroude lewe ingestuur en ons kan maar net saam met hulle glo dat hulle lank en gelukkig saam sal wees.
Ons moes onverwags in September ’n vinnige draai in die Kaap maak.
Ten spyte van die omstandighede waaronder ons moes gaan, was dit nietemin lekker om weer die familie en veral my twee Kaapse kinders te sien.
Die erge droogte in die Kaap het my met dankbaarheid vervul dat ons darem, al is dit soms met onderbrekings, nog genoeg water het om in ons daaglikse behoeftes te voorsien en het my hart gebloei vir die Kapenaars wat regtig swaar onder die droogte gebuk gaan.
Nou lê hef aan nog voor en tel ons die weke voor ons die welkome ruskansie in Desember kan geniet.
Ek vertrou dat die paar weke van 2017 wat oorbly vir julle almal net mooi dinge sal inhou.



