
Dit voel soos baie onlangs wat ek gewonder het hoe gaan die ouers hulle kinders deur die lang skoolvakansie besig hou.
Die kinders is sowaar terug op die skoolbanke en ek glo al die ouers en kinders het dit oorleef.
Ek het op sosiale netwerke gesien dat baie vakansieprogramme aangebied is wat ouers darem ’n blaaskansie gegee het.
Nou moes ouers weer geld uithaal vir skoolklere en ander benodighede om nie van die skoolfonds te praat nie.
Dit is vandag glad nie goedkoop om ’n kind op skool te hou nie en ek is in die stilligheid maar dankbaar dat my jare van kinders op skool verby is.
Vir werkende ouers is nasorggelde ook ’n bykomende uitgawe.
Die verantwoordelikheid om saans na ’n lang dag te help met tuiswerk en take is ook nie maklik nie.
Ek was een van die ongelukkige ma’s wat moes hand bysit by die tuiswerk en ek onthou goed hoe dit my soms gefrustreer het.
Take was gewoonlik ’n hoofpyn want my kinders het gewag tot die taak byna ingehandig moes word voordat hulle onthou het daarvan en dan moes almal inspring.
Sedert selfone en sosiale netwerke hul verskyning gemaak het, word kinders se aandag maklik van skoolwerk afgelei en dit kan ook lei tot groot frustrasie.
Sterkte van my kant af vir elke ouer met ’n kind of kinders op skool.
Aan die kinders: dra jou uniform met trots en hou altyd jou skool se naam hoog.
Jou skooljare is van jou lekkerste jare en gaan baie gou verby, so geniet dit en maak die beste van elke oomblik.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



