Laatnag jaagduiwels.

Dit is asof daar 'n ongeskrewe reël bestaan dat ná 'n sekere tyd in die nag mag daar gejaag word.

Ek wonder hoeveel mense dink ooit aan die gevare waaraan die laataand-padgebruikers blootgestel word?

Dit is nou die nooddienswerkers, soos ambulanspersoneel, polisie, veiligheidsreaksiemagte, dokters op roep en selfs manlief wat terugkeer huis toe ná sy nagskof.

O, ja, en joernaliste wat soms alle ure van die nag na tonele uitgeroep word. Die mensdom is mos nuuskierig van aard en wil van gebeurtenisse lees, of hoe?

Dit het al dikwels gebeur dat ek laatnag of in die vroeë oggendure na ‘n toneel toe ry en jaagduiwels teëkom wat met die spoed van wit lig oor stopstrate en rooi verkeersligte jaag. Gelukkig het ek al geleer om versigtig te wees by elke kruising, veral laatnag wanneer die strate min verkeer dra.

Maar dit is anders vir die nooddienswerkers wat vining by tonele moet uitkom. Dié mense kan weens die aard van hulle werk nie soos skilpaaie na tonele toe ry nie en moet noodgedwonge so gou as moontlik by die noodsituasie uitkom. Versigtigheid moet sekerlik ook die wagwoord wees, maar hulle sal sekerlik boekdele kan skryf oor hoeveel gevalle van “amperse ongelukke’ hulle al gehad het.

Mense! As ‘n vierrigting-stopstraat vir sommige mense nie in die dag veel beteken, beteken dit vir hulle in die nag heeltemal niks.

Dit is asof daar ‘n ongeskrewe reël bestaan dat ná ‘n sekere tyd in die nag mag daar gejaag word.

Deur stopstrate en rooi verkeersligte sonder om ‘n duit om te gee vir moontlike gevolge. Sommige van die nagtelike renjaers ry so vining dit lyk asof hulle vanuit nêrens verskyn en voor jou verbyflits.

Ek glo nie ons kan nie altyd die blaam plaas op Pietie of Sipho wat by ‘n partytjie was of saam met die” boys” ‘n (hele) paar drankies by ‘n klub of ‘jolplek” gedrink het nie.

Ja, hulle is ‘n uiterse gevaar op die paaie en sulke ouens het al baie hartseer en verdriet met ongelukke veroorsaak, maar dood nugtere mense zoem ook deur stopstrate en rooi verkeersligte.

Kanse word gewaag, want die houding is “die ander ou sal maar stop”, al is dit nie vir hom ‘n stopstraat of rooi verkeerslig nie.

Maar soos dit al dikwels gebeur het, op ‘n dag gaan die ander ou nie stilhou nie.

Die gevolge kan en sal soos in die verlede heel waarskynlik tragies wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button