Ermelo-fotografiejeug blink uit by internasionale salonne
Verskeie jong fotograwe van die Ermelo Fotoklub het internasionale erkenning verwerf met aanvaardings, medaljes en sertifikate by gesogte fotosalonne in Duitsland en Rusland.
ERMELO – Ná die onlangse sukses van twee jong Ermelo-fotograwe by internasionale fotosalonne, het verdere inligting oor die prestasies van ander lede van die Ermelo Fotoklub se jeugafdeling aan die lig gekom.
Verskeie jong fotograwe het hulle stempel afgedruk by die German International Photocup sowel as die International Youth Contest in Rusland, waar hulle aanvaardings, sertifikate en medaljes verwerf het.

By die German International Photocup het Karlien Grobler een internasionale aanvaarding ontvang, terwyl Este Kapp en JW Koekemoer elk drie aanvaardings behaal het.
Jenevieve Kruger het vier aanvaardings ontvang.
Bianca Breytenbach was een van die uitblinkers van die kompetisie. Sy het nege aanvaardings, ‘n sertifikaat van meriete en twee medaljes verwerf. Daarbenewens is sy as die vierde beste Suid-Afrikaanse deelnemer onder al die plaaslike jeuginskrywings aangewys.

Die jong fotograwe het ook goed gevaar by die International Youth Contest in Rusland.
Karlien Grobler en Este Kapp het elk een aanvaarding ontvang, terwyl Jenevieve Kruger twee aanvaardings behaal het.
JW Koekemoer het ses aanvaardings ontvang en Bianca Breytenbach het haar sterk vorm voortgesit met sewe internasionale aanvaardings.
Die jong fotograwe was deel van die Suid-Afrikaanse jeugspan wat deur die Photographic Society of South Africa (PSSA) vir deelname aan internasionale salonne ingeskryf is.




