KYK: By Avant Garde Blommeklub sal jou kennis blom
Kry jou snoeiskêr gereed, want hier is almal welkom.
Of jy nou ’n gebore groenduim is of nie, by die plaaslike Avant Garde Blommeklub is dit nooit te laat om die boompie te buig nie.
Hierdie blommerangskikkingsklub, wat al vir 45 jaar in Kempton Park gewortel is, vergader elke tweede Dinsdag van die maand om 9.30vm by Allen Park Aftree-Oord in Cactuslaan.
En nee, jy hoef nie reeds ’n kenner te wees nie. “Inteendeel, hier kom leer jy,” vertel die voorsitter van die klub, Marita Barnard.

Met bekwame rangskikkers van Gauteng Flora-unie wat maandeliks demonstrasies lewer, is blommeliefhebbers gewaarborg om sommer gou-gou touwys te word.
Hierdie maand het die klub geleer dat groente nie net vir eet is nie, maar ook gerangskik kan word vir ’n buffettafel se versiering. Volgens vise-voorsitter Lulu Pieterse leer die klub jou hoe om uit die boks te dink.
“Dan ontmoet jy ook natuurlik nuwe mense.”
Koffie en koeksisters getuig van dié sosiale aspek.

“Die beste besluit wat ek ooit gemaak het was om deel te word van die klub,” sê Dalena de Kok, ’n vliegtuiggewigskontroleerder.
“Dit is pragtig en ontspannend, veral vir my wat ’n stresvolle werk het.”
Inwoners wat hul blommekennis wil laat groei kan gerus vir Marita by 011 972 1318 of Lulu by 082 761 8116 bel. Kostes beloop R300 per jaar en die klub se jaarprogram het in Augustus begin.
