Bekende sakeman van Glen Marais word Vrydag veras
Marais was die laaste naamdraer van die bekende Marais-familie wat stigterslede van Kempton Park was
Thys Marais, ‘n bekende en suksesvolle sakeman van Glen Marais, is Sondagoggend in die intensiewe sorgeenheid van die Midstream Mediclinic oorlede na ‘n siekbed van meer as ‘n week.
Marais, wat op 19 Mei sy 59ste verjaarsdag sou vier, was die eienaar van Lanzarac Ontwikkelaars en het deur die jare verskeie eiendomsontwikkelings in en om Kempton Park gedoen.
Een van sy grootste prestasies was die ontwikkeling van die JST Hospitaal in Rustenburg.
Marais was gewild vir sy sin vir humor en liefde vir die buitelewe. Hy het graag gholf gespeel en jag was vir hom ‘n groot passie.

Hy het in 1978 aan Hoërskool Kempton Park gematrikuleer, waarna hy aan die Universiteit van Pretoria studeer het. Hy was laasjaar die groot dryfveer agter die matriekklas van 1978 se 40-jaar reünie.
Marais was die laaste naamdraer van die bekende Marais-familie wat stigterslede van Kempton Park was. Sy pa Wynand, wat in 1979 dood is, was in die sewentigerjare burgemeester van Kempton Park.
Wyle Wynand se vrou Marie (88), Thys se ma, woon nog al die jare in hul huis in Buitendagstraat, waar Thys en sy suster Cecile ook huise het.
Hy laat Louretta en sy dogters Suné, Anya en Mia na. Suné is ‘n vryskutfotograaf, Anya ‘n student in animasie en Mia is in graad 10 aan Afrikaans Hoër Meisieskool.
Sy verassingsdiens vind Vrydag, 10 Mei om 11vm plaas by die Kaleideo-kerk in Fiskaalstraat.
