Local newsNews

KYK: Impie (13) boer op sy motorfiets én by sy hoenders

Sy geliefkoosde Koekoek-hoenders kyk toe as hy op sy silwerskoon Husqvarna tc85 rondrits.

Spoed, tegniek en uithouvermoë.

Dit is nie vreemde konsepte vir motorfietsryer Zandro Pero (13) nie. Hy was maar net drie jaar oud toe hy vir die eerste keer op ’n ysterperd geklim het.

“My bene was te kort om die grond by te kom, toe sit hulle vir my bakstene neer,” vertel die Graad Sewe Laerskool Impala-leerder.

Pero het nie bakstene nodig gehad toe hy onlangs by die GXCC uithourit in Secunda in Mpumalanga weggespring het nie. Twee ure en sowat 12km later het dié motorfietstalent ’n tweede plek behaal.

“Wanneer ek op my motorfiets is, voel ek vry,” deel hy, en dit sien ’n mens duidelik wanneer hy op sy silwerskoon Husqvarna tc85 rondrits. Gelukkig vir die tiener woon hy op ’n plot in Brentwood Park, so daar is baie spasie vir spoed.

Ander inwoners van die plot sluit sy geliefkoosde Potchefstroom Koekoek-hoenders in, waarvan die eerste twee ’n geskenk van sy oupa was.

“Ek het gedink hoenders is nogal cool, toe begin ek ’n besigheid,” verduidelik die jong entrepreneur, wat tot sy eie broeikas het. Hy verkoop hoenders en eiers, maar meestal eiers omdat die hoenders so lank vat om uit te broei.

Lesers kan Pero se hoender- en motorfietsavonture up sy Youtube-kanaal Zandro Pero Vlogs volg. ’n Gunsteling van Express is My chicken laid her first egg (rotten), waar Pero opgewonde sy hoender se eerste eier kraak, maar ’n onaangename verrassing vind.

https://youtu.be/QgcmjYU-Bh0

Wanneer Pero nie besig is met sy motorfiets of hoenders nie, kan jy hom agter die boeke kry, want hy is die Impies se hoofseun van akademie.

As hy nie daar is nie, kyk miskien op die hokkieveld, vlugbalbaan of by die jukskei. Hy neem ook deel aan revue en die kunswedstryd. “Ek het ’n tight schedule,” lag hy, “maar mamma en oupa hou my gemotiveerd.”

Sy raad aan aspirant-motorfietsryers is: “Hou aan oefen. As jy val, moet jy weer opstaan en aanhou werk.”

Motorfietsryer Zandro Pero (13) in aksie. Hy het die eerste keer op ’n motorfiets geklim toe hy drie jaar oud was. Foto verskaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button