Jakkie Louw hou poppekas vir Pokkel Pensies
“Ek probeer om teater weer terug te bring vir kinders,” het Louw aan Express vertel.
Pokkel Pensie Voorskool in Fiskaalstraat was Woensdagoggend ’n prentjie van pure geluk toe sanger Jakkie Louw hulle met ’n poppekas vermaak het.
Karakters soos Eeejonkie Donkie , Vrottie-Kokerottie en Tienie die TV Vlieg het kom kuier om vir dié skooltjie met opvoedkundige vermaak te verskaf.
“Ek probeer om teater weer terug te bring vir kinders,” het Louw aan Express vertel. “As ons daai magic van teater weer vir kinders kan leer, gaan hulle groot word en ook na produksies gaan kyk.”
Kyk hier na nog foto’s van die kinders
Louw, bekend vir treffers soos Drie Pikkewyne en Een Miljoen Woorde, het self twee dogtertjies vir wie hy elke aand stories vertel.
“Toe ek op toer met die band was, het my vrou gevra of ek nie ’n stemboodskap met ’n storie vir hulle kan stuur nie, want hulle kan nie slaap nie. Daaruit het ’n CD gekom en toe ek weer sien, het ek en ’n vriend ’n poppekas gebou.”
Die vermaak is natuurlik nie sonder ’n lessie nie en die jong gehoor het geleer dat geskenke nie alles is nie, en soms het ’n mens net ’n maatjie en liefde nodig.
Skoolhoof en eienaar van die skool Melanie Algera was net so opgewonde oor Louw se besoek.
“Vandag is nie net ’n fondsinameling nie, maar ook ’n opvoedkundige geleentheid vir die kinders.”
