Ondersteun Solidariteit Helpende Hand se breinaald-projek
Helpende Hand bedryf die breinaald-projek deur hul verskeie takke landswyd.

Solidariteit Helpende Hand se tak in Kemptonpark benodig dringend wol en vrywilligers wat kan brei of hekel om te sorg dat behoeftige mense teen die winterkoue gepantser word.
Benette Rautenbach, projekorganiseerder van Helpende Hand se breinaald-inisiatief, sê die doel van dié projek is nie net om die koue te verdryf nie, maar ook om vrywilligers, veral bejaardes, die geleentheid te gun om ’n direkte verskil in hul samelewing te maak.
“Helpende Hand bedryf die breinaald-projek deur ons verskeie takke landswyd om veral te sorg dat bejaardes besig kan bly en besef hulle het steeds waarde. Die vrywilligers kan die hele jaar lank brei en Helpende Hand sal koördineer dat die gebreide of gehekelde items by hulpbehoewende mense uitkom.
“Om die projek ’n sukses te maak, benodig ons mense wat vir ons kan brei, asook mense wat wol daarvoor kan skenk,” het Rautenbach gesê.
Enigiets van mussies, serpe, kouse, handskoene, komberse, truie en selfs speelgoed kan gebrei en uitgedeel word.
“’n Woltrui vir ’n kind het verskeie voordele. Nie net is dit lekker snoesig nie, maar dit is nie-allergiese materiaal, sterker as ’n gewone sweetpakbaadjie en kan ’n paar seisoene lank hou. Dit help ook om ’n baba en kleuter se liggaamstemperatuur te reguleer en daar is boonop soveel mooi patrone vir kinders.
“Speelgoed soos beertjies kan ook gebrei word. Van die takke verskaf die beertjies aan die polisie, wat dit op hul beurt weer aan slagoffers van misdaad gee om die band tussen die polisiebeampte en kind te versterk en ook ’n vorm van vertroosting vir die kind te bied.”
As jy wil help skakel Ella Pieterse, voorsitter van die Kemptonpark-tak, by 082 406 3655.
