Local newsNews

Bekende Kempton Parkse professor vier sy 90ste verjaarsdag

Die egpaar het in 1957 vanuit Nederland na Suid-Afrika ge-emigreer.

Prof Pieter van Berge, wat reeds 54 jaar in Kempton Park bly, vier op 10 Julie sy 90ste verjaarsdag.

Hy woon die afgelope 26 jaar in Marmanet en is geseënd met goeie gesondheid. Hy hou homself besig deur rekenaarprogramme te skryf en bly op hoogte van akademiese en aktuele sake.

Hy voltooi ook elke dag die suduko in ’n dagkoerant en is ‘n aktiewe lid van die brugklub by Marmanet.

Van Berge is in 1929 op die plattelandse dorp Oostzaan in Nederland gebore en het die Tweede Wêreldoorlog meegemaak.

Na skool het hy by die Universiteit van Amsterdam gaan studeer waar hy elke dag die roete vanaf sy huis tot by die universiteit per fiets afgelê het.

Hy is op 26 Julie 1955 met Nelly Kroon getroud. Twee jaar later het die egpaar besluit om per boot na Suid-Afrika te emigreer.

Hy het sy doktorsgraad by die Universiteit van Pretoria voltooi en het later ook die titel professor verwerf.

‘n Foto van Prof Pieter van Berge en sy vrou Nelly toe hy sy doktorsgraad verwerf het.

Hy was vanaf die ontstaan van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) ‘n dosent in chemie. Met sy aftrede op 63-jarige ouderdom het die naam van RAU na die Universiteit van Johannesburg (UJ) verander.

Vele studente het onder sy bekwame leiding hul studies suksesvol afgehandel. Tydens een lesing het ‘n student vir hom gesê: “Prof, ons het geen probleem met die chemie nie, ons sukkel egter soms met die Nederlands.”

Vier kinders is uit die huwelik gebore. Peter het in sy pa se voetspore gevolg en ook ‘n doktorsgraad in chemie verwerf. Carolien was ‘n haarkapper, Ronel ‘n verpleegsuster en Liza ‘n wiskunde onderwyseres. Hy het agt kleinkinders en vier agterkleinkinders. Sy vyfde agterkleinkind word in November gebore.

Sy vrou, Nelly, is na 59 jaar se getroude lewe op 9 Julie 2014 oorlede.

Die gesin was lidmate van NG Kerk Kempton-Noord en die egpaar het ook op die kerkraad gedien. Nelly was die eerste vrou wat as diaken aangestel is.

Van Berge was ook die stigter van die skaakklub in Kempton Park wat nou nog bestaan.

Sy resep om ‘n hoë ouderdom te bereik? Geloof, eet gesond, oefen en hou aan studeer.

Liza het namens sy kinders gesê: “Pa, jy is vir ons ‘n voorbeeld. Baie geluk met jou 90ste verjaarsdag!”

Also follow us on:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button