Local newsNews

Bekende oud-sakeman (87) van die stad oorlede

Hy het in sy jonger dae ook 'n buurtwag in sy woonbuurt, Rhodesfield, op die been gebring

“Hy het hoog gevlieg en op aarde diep spore getrap.”

So gesels sy drie kinders oor hul bekende pappie Heinz Kutzner (87) wat Maandag in die vroeë oggendure oorlede is.

Dié voormalige sakeman is in die hospitaal oorlede na ‘n kort siekbed.

Menige inwoners sal dié gewese vlieënier, ‘n senior kaptein van die Suid-Afrikaanse Lugdiens vir 35 jaar, op verskeie terreine onthou. Hy was nie net die eienaar van die destydse Airline Motors in Pretoriaweg nie (dit het later na Rhodesfield verskuif), maar hy was ook nou by sy gemeenskap betrokke.

Van die organisasies waarop hy gedien het, sluit in Kempton Park Sakekamer, Orange Tail, Raad vir Bejaardes Kempton Park, Probus, Klub 50, Silwer Springbokke, Aurora Rotary Club in Benoni, SAL Museum en Makaira Hengel- en Skiklub. Hy het ook sy Suid-Afrikaanse kleure in hengel verwerf.

Hy was in 1992 ook die president van Kempton Park Rotary Club.

Hy het in sy jonger dae ook ‘n buurtwag in sy woonbuurt, Rhodesfield, op die been gebring. Kutzner het die laaste aantal jare in Vergelegen gebly.

Hy laat sy vrou, drie kinders, vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders na.

“Hy was ‘n geliefde mens by almal,” het sy kinders gesê.

Hy word Dinsdag, 16 Julie om 10vm vanuit die NG Kerk Kempton-Kruin in Fiskaalstraat, Glen Marais begrawe.

Also follow us on:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button