Kempton-stemme wen goud saam met Oos-Randse Jeugkoor
Die lewe is vol uitdagings en struikelblokkes, maar niks is onmoontlik nie, sê dirigent Gert Pottas
Die Oos-Randse Jeugkoor, met 70 Kemptonparkse leerders in sy geledere, is met goud vereer daar waar hul stemme in Europa weerklink het.
Die koor het aan twee internasionale kompetisies, in Oostenryk en Pole, deelgeneem, waar hulle stof in die oë van kore van regoor die wêreld geskop het
In Pole is die koor aangewys as die algehele wenner van die Copernicus-koorfees se Per Musicam Ad Astra-kompetisie. Hulle het ook in die afdelings vir jeugkore, tradisionele musiek en gospel gewen.
Mbali Mkhize is as die beste solis aangewys.
By die Salzburg Internasionale Koorfees en Kompetisie in Oostenryk was die Suid-Afrikaanse koor algeheel tweede. Hulle het ook goud in die afdelings vir gemengde kore en tradisionele musiek gewen.

Hul liedjies wat benoem is vir die beste vertolking van ‘n sekulêre werk, was Kurt Bester se Prayer of the Children.
Die Oos-Randse Jeugkoor, onder leiding van Gert Pottas (30), bestaan uit 30 seuns en 45 meisies. Hulle het op 19 Junie op hul reis na Europa vertrek en het lande soos Oostenryk, Tsjeggiese Republiek, Duitsland en Pole besoek voor hulle op 4 Julie weer op plaaslike bodem geland het.
Volgens Pottas was hulle sedert September 2018 besig met voorbereidings vir die toer.
Wat vir Pottas die spesiaalste van dié toer was: “Om eerlik en opreg musiek saam met doodgewone kinders te kon maak. Om die mense se gesigte te beleef wanneer ons met oorgawe ons land se tradisionele musiek opvoer. Die voorreg om die hande, voete en liefde van die Here te wees en mense van regoor die wêreld te motiveer en inspireer.”
Aan sy koorlede en organiseerders wil Pottas die boodskap oordra dat die lewe vol uitdagings en struikelblokke is, maar dat niks onmoontlik is nie.

En wat lê vir die res van die jaar voor: “Ons het ’n lywige Augustus wat voorlê. Die koor tree saam met verskeie groepe by ’n musiekfees op 14 en 15 Augustus op wat in Reddam House Waterfall se ouditorium gehou word,” het Pottas gesê.
“Op 17 en 18 Augustus het ons ’n wildsfeesvertoning buitekant Bloemfontein waar ons honderde internasionale gaste gaan vermaak met tradisionele Suid-Afrikaanse musiek. Op 20 Augustus huisves ons die Barnsley Youth Choir van Engeland met ’n wonderlike konsert by Kaleideo-kerk in Kempton Park, en op 31 Augustus is ons galakonsert in die Voortrekker Monument.”
Hy sê oudisies vir die koor sal in September gehou word, elke Woensdag vanaf 3nm tot 6nm by Kaleideo-kerk.
Pottas wil graag spesiale erkenning gee aan Michelle Schuman (organiseerder), Fransisca van Zyl (voorsitter) en Tertius du Plessis (begeleier).

