Local newsNews

Kempton Park Raad vir Bejaardes toon ‘n kleiner verlies

Die finansiële verslag het weerspieël dat die oord se algehele inkomstes vir die jaar R19 314 000 was.

Hoewel Kempton Park Raad vir Bejaardes die afgelope finansiële jaar ’n verlies van R2,35 miljoen gely, is dit heelwat beter as die vorige jaar se verlies van bykans R5,8 miljoen.

Die finansiële verslag, wat tydens Kempton Park Raad vir Bejaardes se jaarvergadering laasweek bekend gemaak is, weerspieël dat die organisasie se algehele inkomste vir die jaar R19,314 miljoen was, waarvan R2 056 054 te danke was aan donasie-erkennings op lewensregeenhede.

Volgens André Naudé, uitvoerende hoof van die raad, is Allen Park die raad se verhuringsgedeelte waarvan 236 woonstelle verhuur word. Die lewensregeenhede sluit in Immergroen met 11 eenhede, Siebertroos Park met 17 eenhede, Lenitas met 77 eenhede en Vergelegen met 37. Die eenhede word op lewensregbasis verkoop.

Verdere huurinkomstes het ’n inkomste van R4 447 489 getoon, terwyl die losiesgelde van Allen Park, sowel as die versorgingseenheid en hulpsorgsentrum, ’n inkomste van R5 423 845 gewys het.

Hoewel funksies en kermisse die afgelope jaar minder voete gekry het, was daar ’n byna R20 000 verbetering in dié inkomste bo die vorige jaar se opbrengs van R153 000.

“Sienende dat die ekonomie in die algemeen verswak het, is dit nie ’n slegte opbrengs nie,” het Naudé aan Express gesê.

Die totale uitgawes vir die 2018/2019 boekjaar was sowat R21.6 miljoen teenoor die vorige jaar se R23.6 miljoen. Die grootste instandhoudingskostes was aan die perseelgeboue en opknappingswerk aan woonstelle waar sterfgevalle was of waar mense na hul kinders getrek het of in ‘n versorgingseenheid opgeneem is.

Munisipale dienste het met meer as R200 000 toegeneem en maaltye by die aftreeoord het grootendeels dieselfde gebly op sowat R1.9 miljoen.

Tydens die jaarvergadering het Allen Park se Cantante Deo-koor ook opgetree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button