
MNR DU PLESSIS van Nimrodpark skryf:
Ten spyte van die huidige omstandighede waaronder ons deesdae leef, beleef ons so nou en dan ‘n ligte puntjie.
Hier en daar is ‘n persoon met integriteit, eerlikheid en respek vir ander mense se persoonlike besittings.
Op Donderdagmiddag, 14 Oktober, moes ek inderhaas pakkies gaan aflewer. Met my aankoms by die motor kon ek nie alles behartig nie en ek plaas toe my houer met bankkaarte, bestuurslisensie, pensioenkaarte, mediese kaarte en talle ander kaarte op die dak van die motor. Ek onderneem toe die rit.
Ongeveer 20 minute later het ek besef wat ek gedoen het. Ek het die bank geskakel en al die kaarte gekanselleer. Ek het onmiddellik ‘n kilometer van die pad vanaf my huis gepatrolleer op soek na die kaarthouer, maar sonder sukses.
Die Vrydagoggend (15 Oktober) het Standard Bank Woodbridge my geskakel. Groot was my verligting om te verneem dat die verlore kaarte by hul tak ingehandig is.
Met ontvangs van die kaarte was dit duidelik dat voertuie oor die houer gery het. Party van die kaarte was gebuig, maar nog bruikbaar. Ek gee my innige en opregte dank aan die onbekende weldoener en die bank vir hul optrede.
