LettersOpinion

Hoekom die foto so seermaak

Bestuurder is verlam na 'n ernstige ongeluk naby Bloemfontein

MARINDA BLOMERUS skryf:

Ek weet dat Kempton Express oorval is met oproepe aangaande die “name and shame them”-foto wat in laasweek se uitgawe geplaas is en dat u seker al moedeloos is.

As suster van Stefan en Natascha Maritz, ‘n gesin wat ons baie na aan die hart lê, wil ek net aan u verduidelik waarom dit ons so ontstel het.

Ek was daar toe die selfoon om 4.46am op op 24 September 2012 gelui het en ek ingelig is oor die ongeluk waarin Stefan en Natascha was.

Ek is die een wat die sy ouers op die vakansiedag moes wakker bel om die nuus aan hulle oor te dra. Ek was die een wat die familie gebel het om hulle te verwittig dat die broer en sus waarvoor ons so lief is, langs die pad naby Smithfield in ‘n ongeluk was en dat Stefan, soos ons praat, nog vassit in die kar. Ek was die een wat met ‘n huilende, bykans histeriese Natascha gepraat het, terwyl Wernich, hul 10 maande oue seuntjie, hartseer in die agtergrond huil omdat hy seer het en nie weet wat gebeur het nie.

Toe die ambulans by die ongevalle van Rosepark-hospitaal intrek en die paramedici die deure van die ambulans oopmaak, was ek die een in wie se arms hulle Wernich, vasgemaak op ‘n stutbord, gesit het. Ek het in ongevalle huilend en bewerig van skok, met Wernich in my arms, gestaan en luister hoe Stefan gil van pyn en smeek vir genade.

Ek het die gang tussen die ongevalle en die x-strale op en af geloop met die huilende babatjie omdat sy gehuil sy ouers te veel ontstel het.

Vir 12 dae het ek in die hospitaal gebly en elke dag langs die beddens van my geliefdes gesit. Ek het saam met die dokters en verpleegsters gehuil toe hulle ‘n spesiale vergunning gemaak het en Stefan op sy bed uit ICU gestoot het om net vir ‘n paar sekondes sy seuntjie te kon sien.

Ek was die een wat die motor bestuur het toe ons wegry uit Bloemfontein en Natascha vir Stefan daar moes los.

Ek was daar toe Stefan se rehabilitasie begin en ek oor die maande gesien het hoe moedig hy veg om die stukkies van sy lewe weer aanmekaar te probeer sit. Ek het gesien hoe Natascha met haar twee gebreekte bene in haar rolstoel elke oggend vir Wernich in die motor laai as my skoonpa hulle kom haal het om die pad hospitaal toe te vat.

Ek was daar deur die hoogtepunte en die laagtepunte, die moedeloos wees en die “weer moedskep” tye.

Ek was daar toe Stefan die einste Porshe wat in die foto is, met soveel trots vir ons kom wys het. Die motor het vir my ‘n simbool van sy oorwinning oor sy stryd geword. Dit is net ‘n kar, maar dit gee vir hom ‘n bietjie terug van dit wat hy verloor het.

So ja, vir my het dit gevoel dat die foto, wat sonder enige nadenke geplaas is, afbreek gedoen het aan alles waarvoor Stefan en Natascha die afgelope jaar gewerk het. Stefan laat nie toe dat selfbejammering hom een dag onder kry nie. Hul gesinnetjie het soveel vordering gemaak die laaste jaar en Natascha is so toegewyd in haar hulp aan Stefan.

Hy sou verkies om glad nie op die “disabled parking” te stop nie, maar word gedwing om dit te doen omdat hy die spasie nodig het om homself te verplaas vanuit die motor in sy stoel. Ons voel baie beskermend oor die drie mense in ons lewens en wil nie hê iets so klein soos die ondeurdagte aksie, moet hulle moed breek nie.

Die persoon wat die foto geneem het, sou nooit kon dink hoeveel skade die ou fototjie aan ons almal sou doen nie.

Baie dankie dat u so mooi met Natascha gepraat het toe sy u by die kantoor kom spreek het. Ek, Marinda Blomerus, suster van Stefan en Natascha, waardeer u verskoning.

Hierdie gesin se storie het ons so geruk dat ons besluit het om die “name and shame” te staak. Ons het op ons lesers vertrou om seker te maak die bestuurders is nie gestrem nie, wat in hierdie geval, asook in die geval van die blou Polo, wat in dieselfde uitgawe gepubliseer is, nie gebeur het nie.

In die Polo se geval was die persoon wel nie gestrem nie, maar ‘n bejaarde man wat nie langer as ‘n halfuur sonder suurstof kan wees nie.

Express vra daarom weer om verskoning aan hierdie twee gesinne – Redakteur

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button