P ASPELING van Birch Acres skryf:
Waar is die wetstoepassers van verkeerswette in Kemptonpark?
Dit is skrikwekkend om te sien hoeveel motoriste daagliks bloot weier om by stoptekens te stop. Ek ry daagliks in Pongolarivier- en Mooirivierstraat in Norkempark en Birch Acres.
Bestuurders, sommige met ‘n selfoon teen die oor, ander met klein kindertjies op die passasiersitplek (sonder veiligheidstoel of -gordel), ry asof daar nie stoptekens bestaan nie. Hulle toon geen respek vir wetsgetroue bestuurders nie.
Praat nie eers van bestuurders van bussies wat skoolkinders en pendelaars vervoer en afleweringsvoertuie nie.
As daar vir die skuldiges ligte geflikker word of toeter geblaas word, laat hulle jou in duidelike vinger- en lippetaal verstaan wat hulle van jou dink. Sommige neem selfs dreigende houdings in.
Vir die verkeersowerhede is daar gulde geleentheid om baie geld vir die raad te maak indien hulle die skuldiges aan die pen laat ry.
Vir die skuldiges net dit: as julle so deur die stopstrate ry, dink net aan die vele onskuldige lewens (selfs julle kinders) wat julle in gevaar stel deur julle onverantwoordelikheid.
Stop beteken STOP.