LettersOpinion

Ons volksdanse is eie aan SA

Dr Samuel Henri Pellissier het as jong man in 1912 by Naas in Swede kennis gemaak met die Sweedse volksdanse

KOBUS VORSTER van Van Riebeeckpark skryf:

Dit was met belangstelling dat ons die berig in Kempton Express van 22 Mei gelees het oor “Volkspelers vier honderdjarige fees“, wat van 30 Mei tot 1 Junie by Curro Serengeti plaasvind.

In die berig word gemeld: “Volkspele het sy oorsprong in Europa gehad … toe dr Pellissier musiek uit die Afrikaanse stamlande saamgebring en verwerk het vir Suid-Afrika.” Hierdie beskouing is nie heeltemal korrek nie.

Wat wel gebeur het en wat ook in ‘n onderhoud met die SAUK gedurende die1970’s bevestig is, is as volg:

Dr Samuel Henri Pellissier (1887-1978) het as jong man in 1912 by Naas in Swede kennis gemaak met Sweedse volksdanse.

Die feesterrein van Naas is geleë sowat 30km noordoos van Goteborg, die tweede grootste stad, geleë aan die weskus van Swede.

Dit was die Sweedse taalkundige en volkskundekenner, Artur Hazelius (1833-1901), wat die Sweedse volksdanse by Naas laat herleef het.

Hazelius is ook beroemd vir die stigting van die Noorse Volksmuseum (1873) in Stockholm en vir die aanleg van die digbygeleë Skansen-Opelugmuseum (1890-1896), wat die heel eerste museum van hierdie aard in die wêreld was en waar daar gereeld volksdanse aangebied word.

Hierdie baanbrekerswerk van Hazelius is ook nagevolg in die res van die Skandinaviese lande, asook in Nederland en Duitsland waar daar ook gereeld volksdanse uitgevoer word en wat ons deur die jare heen kon ervaar.

Selfs in die VSA het die gedagte van Hazelius pos gevat en was dit vir ons ‘n ryke ervaring om ook opelug musea in Oos-Siberië, Rusland en Japan aan te tref waar kultuurgoedere van hierdie lande bewaar word.

Ook in Suid-Afrika het die geesteswêreld van Artur Hazelius hom laat geld met opelug musea wat aangelê is en volksdanse wat aangebied word.

So was dit dr Pellissier wat as ‘n jong onderwyser in Boshof by die Rooidakskool op 27 Mei 1914 die heel eerste volkspelelaer gestig het, waarna die volkspelebeweging landwyd gegroei het.

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou, dat, ofskoon daar twee volksdanse vanuit Swede was wat in handleidings opgeneem was, en waarvan ons oor opnames beskik wat ons in Swede aangekoop het, is die res van die volksdanse van Suid-Afrikaanse oorsprong.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button