LettersOpinion

Allenpark en kerk is nie kop in een mus nie

Kleinkind voel haar ouma word benadeel omdat sy nie deel van 'n sekere gemeente is nie

M LUDEKE skryf:

Hoewel mens waardering het vir van die werk wat organisasies soos Allenpark doen, is daar soms sake wat nie onaangedaan gelaat kan word nie.

My ouma het jare gelede aansoek gedoen vir een van die huurwoonstelle en betaal jaarliks die fooi om haar naam op die waglys te hou. Sy is ‘n paar keer geskakel omdat daar een beskikbaar was, maar omdat sy nog nie reg was nie, het sy dit van die hand gewys.

Die laaste keer toe sy einde 2013 geskakel is, het sy dit wel aanvaar en is vir ‘n keuringsvergadering genooi. Omdat my tante ook in Allenpark woon en die prosedure met die vorige bestuurder deurloop het, was die verwagting groot dat my ouma ‘n plekkie sou kry.

Groot was die ontnugtering toe sy meegedeel is dat daar nie plek is nie, maar dat hulle haar in kennis sou stel as een oopgaan. Waarom haar nooi vir ‘n vergadering as hulle weet daar is nie plek nie?

Ons skakel gereeld, maar word meegedeel dat daar eers enkellopendes is wat alleen in dubbelwoonstelle woon wat geplaas moet word. Volgens my tante was daar die afgelope jaar baie min getroude mense wat afgesterf het en is daar gereeld enkeleenhede oop. Volgens gerugte is die bestuurder en admin beampte by die NG Gemeente Kempton-Kruin betrokke en word daar voorkeur aan hulle lidmate gegee, selfs al is hul name nie op die waglys nie.

Soos ek verstaan is die organisasie interkerklik en verskaf dienste aan alle gelowe.

Ek was onlangs toevallig in die kantore toe die bestuurder een van die inwoners voor die personeel en omstanders verbaal aangeval het. Kon hy haar nie net na sy kantoor toe geneem en die saak daar met haar bespreek het nie? Is dit hoe iemand optree wat ons ouer geslag moet versorg en na hul behoeftes omsien? Waar is sy empatie?

Ek meld nie my ouma se naam nie. Sy is nie bewus daarvan dat ek skryf nie, omdat die moontlikheid van viktimisering volgens my baie groot is en ek nie haar saak verder wil verswak, maar dat dit in openbare belang en om regverdigheid is dat ek dit doen.

Ek vertrou dat my brief nie soos vele ander s’n in die snippermandjie sal beland nie, maar dat dit sonder “fear of favour” geplaas sal word.

André Naude, bestuurshoof van Kemptonpark Raad vir Bejaardes, antwoord:

Eerstens wil ek die skrywer uitnooi om die saak met my en die maatskaplike werker te kom bespreek. Die inligting in die brief verskaf is hopeloos te vaag om die saak te kan ondersoek.

Die persoon hoef geensins viktimisasie te vrees nie. Dit is nie ons manier van dinge doen nie.

Ek wil ook net noem dat die admin beampte laat in die tweede helfte van 2013 ons diens verlaat het en nooit betrokke was by die NG Gemeente Kempton-Kruin nie.

Ek besoek Kempton-Kruin van tyd tot tyd, maar is sedert Januarie 2013 ingeskakel by ‘n totaal ander kerkdenominasie buite die NG Kerk. Dus is die aantygings dat Kempton-Kruin se lidmate bevoordeel word, totaal ongegrond.

Ouer persone van alle kerkdenominasies woon hier en al wat vir ons belangrik is, is dat die persoon wel aan ‘n kerk behoort sodat daar van die kerk se kant af ook ‘n steunstelsel in plek is.

Die enigste personeellid wat met Kruin-gemeente ‘n band het, is ons senior finansiële beampte.

Ook die stelling dat die bestuurder ‘n bejaarde verbaal aangeval het, is te vaag om op te reageer. Dit is nie my styl nie en ons poog om alle persone te alle tye met respek en deernis en met die nodige empatie te behandel.

Dit is vir my ‘n hartseer dag dat ‘n gemeente by naam ook indirek geimpliseer word in die aantygings. Die NG Gemeente Kempton-Kruin doen ongelooflik baie goeie werk in die gemeenskap sonder om ooit iets terug te verwag. Net soos ons van hulle af gereelde skenkings ontvang, ontvang ons ook van vele ander kerke en skole.

Almal het die doel om die lewe vir ons ouer persone, veral die wat finansieël baie swaar kry, gemakliker te probeer maak. Ek wil graag voorstel dat die skrywer die NG Gemeente Kempton-Kruin om verskoning vra.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button