INA VAN DER WESTHUIZEN skryf:
Ek is ‘n baie bekommerde inwoner in Pongolarivierrylaan in Birchleigh-Noord.
In die onlangse berig oor die nuwe plek wat vir die oorlaaistasie in Norkempark gesoek word, sien ek dat ons straat nou maar die gerieflike “dumping”-paleis geword het.
Eers is daar net boumateriaal afgelaai (deur stadsraad). Toe word dit deur almal misbruik. Vragte gemors word deur elke Jan Rap en sy maat daar gegooi.
Ag nee magtig man, so kan dit nie aangaan nie! Die storting word net erger en ek is so moeg om al wat ‘n papier is wat in my erf waai, op te tel. Die wilde voëls in die eens mooie vlei het ook nou die pad begin vat en die ergste van alles is die gemors word letterlik teenaan wooneenhede gestort.
Wat is volgende? Kan iemand by die stadsraad bietjie antwoord.
