
GEFRUSTREERDE PADGEBRUIKER skryf:
Na verskeie onsuksesvolle oproepe na die Ekurhuleni-verkeersdapertement, wend ek my maar tot hierdie skrywe.
Ek is die afgelope vyf jaar ‘n gereelde gebruiker van Kwartelweg vanuit Birch Acres na Kemptonpark, ‘n roete wat my nog altyd binne ‘n redelike tyd by my bestemming gebring het.
Die volume verkeer vanuit Tembisa op hierdie roete het intussen aansienlik toegeneem en daarmee saam ongelukkig ook die hoeveelheid ernstige verkeersoortredings.
Die oortredings sluit in: tweerigtingverkeer verander in ‘n eenrigting met twee bane, waardeur aankomende verkeer ernstig in gevaar gestel word.
Dan druk motors voor in die ry in, ry bo-oor en regs om die sirkel by Bergeendweg en deur die Engen-garage – letterlik enigiets om in te druk en die verkeer verder te vertraag.
Stoptekens bestaan glad nie vir verkeer uit Blouvalk en die selfgemaakte grondpad agter Birchgate Spar nie. Ek spandeer tans minstens 45 minute om ‘n afstand van 4,5km af te lê.
Nêrens is daar sigbare tekens van wetstoepassing nie. Trouens, selfs ons verkeerspolisie gee ewe getrou pad vir die wetsoortreders aan die kant van pad wat in hul rigting voortsnel.
Ons verkeersdepartement kan skatryk word deur soggens hierdie roete op permanente basis te beman. Dis ‘n nagmerrie.
Is ek die enigste uiters gefrustreerde gebruiker van hierdie roete?
