
ONTNUGTERDE CHRISTEN SKRYF:
“Ek kan my indink hoe jy voel” is seker die ondeurdagste leuen wat die meeste geopper word aan ‘n getraumatiseerde slagoffer kort nadat hy of sy kontakmisdaad oorleef het.
Die werklike effek van huisrooftogte en kapings op Christen-slagoffers word baie keer misverstaan deurdat die kerk en mede-Christene slegs besorgd is oor hul lidmate en vriende se fisiese toestand.
Stellings soos, “Hy het darem nie te seergekry nie”, of “Hulle was gelukkig net vasgebind en nie geslaan nie”, of die gewraakte, “Ons is net dankbaar hulle lewens is gespaar”, dui op ‘n akute vlak van onkunde oor die ware toestand van die slagoffers.
Veral ondersteuning van die kerk droog vinnig op wanneer die slagoffer(s) fisies lyk asof hulle darem more die son sal sien opkom, want hulle weet nie van beter nie. Predikante wat ‘n persoonlike besoek vervang met ‘n uitnodiging om hom te bel as jy hom nodig het, verstaan nie dat ‘n getraumatiseerde persoon gewoon nie die emosionele kapasiteit het om te weet dat hy of sy hulp dringend nodig het nie.
Volgens my eie ervaring genees die fisiese letsels binne dae. Dit word gevolg deur ‘n super-paraat periode van etlike maande waar geen abnormaliteit in jou omgewing jou ontgaan nie, selfs al is dit ‘n takkie wat in die wind teen jou huis dak krap drie-uur die oggend.
In hierdie periode gaan jy vir berading of welmenende beraders help jou om beheer terug te neem van jou lewe en om die misdadigers te (probeer) vergewe, vry te spreek en uiteindelik te seën. En dan los almal jou, want hulle dink jy is nou reg en gesond.
Maar jy is nie – jy is ontnugter en jy is kwaad vir God en hoewel jy dit nie dadelik besef nie, gaan jy waarskynlik vir Hom kwaad bly vir baie jare. Want elke keer as dit iemand anders se beurt is, vlam al die ou vrae en emosies weer op.
“Hoe kon Hy dit toelaat? Waar was Hy? Jy dien Hom al jare as Abba Vader en Hy maak so? Watter aardse Pappa sal toelaat dat ‘n groepie van sy kinders ‘n ander groepie wreed aanval, besteel, slag, verneder? Weet Hy nie dat in ‘n sekulêre werk Hy ‘n uiters swak prestasie-beoordeling sou kry agv hierdie skuim wat Hy volgens Sy Woord “kunstig in hul moederskote” gevorm het nie?
Na jare kom Vader Tyd genadiglik en hy herstel dele van die verhouding tussen jou en God. Want glo soos ‘n kind kan jy nie meer nie. En volkome vertrou ook nie.
Die beloftes van Goddelike beskerming uit die Bybel is mos doodgekrap deur vier kriminele in een verskriklike nag. Maar jy glo steeds in Hom as die enigste almagtige God en jy glo steeds in jou verlossing, maar jy weet eerlikwaar nie waar op aarde jy regtig op Hom sal kan peil trek nie.
Want dalk kyk Hy weer anderpad? Kerkleiers moet asseblief leer hoe om die duisende slagoffers van kontakmisdade in een stuk deur hierdie laaste fase te begelei.
Die kerk moet eers help heelmaak voordat oor versoening gepreek kan word.
