Dojo laat hom nie inperk nie
Vir die afgelope paar maande het Shotokan Suid-Afrika-karatedojo in Monument aanlynklasse vir hul meer as 216 studente aangebied.
Terwyl alle sportsoorte tot stilstand gekom het tydens die inperkingstyd, het die Shotokan Suid-Afrika-karatedojo in Monument ‘n innoverende plan uitgedink. Vir die afgelope paar maande het Elmarie van Zyl aanlynklasse vir haar meer as 216 studente aangebied. Elmarie is ‘n sesde dan en is al sedert 1981 betrokke by karate. Sy is ook die hoof van Shotokan Suid-Afrika en het al haar land verteenwoordig. Elmarie het die dojo by die NG Paardekraal-kerk in Monument op 1 Augustus 2006 begin. Toe die inperkingstyd afskop, het hul nasionale afrigter, Marie du Preez aanlynklasse voorgestel.
Ons het eers net video’s gemaak maar die probleem was ons kon nie die kinders sien nie. Ons het toe op 30 Maart ons eerste aanlynklas aangebied,” het Elmarie verduidelik.
Sy het gesê dat hulle die studente in kleiner groepe van 14 opgedeel het. Een sensei het dan die klas aangebied terwyl ‘n ander na die kinders se vordering op die skerm kon kyk. “Ek was uiters verbaas oor die uitkoms. Terwyl sommige studente gesukkel het omdat hul aandag by die huis afgetrek is, het ander weer beter gevaar. Hulle het gefokus op die klas en baie vinniger geleer,” het sy vertel. Toe die land na Vlak 2 van die inperking beweeg, kon Elmarie weer haar dojo amptelik oopmaak en sy het vertel dat sy dit gemis het om die studente self te sien.

Omdat sommige ouers nog nie veilig voel om hul kinders dojo toe te stuur nie, gaan hulle aan met die aanlynklasse. Terwyl sy klasgee in die dojo sal die ander kinders aanlyn kan inskakel en niks misloop nie. Elmarie is baie trots op haar studente en het vertel dat Stefan Schonborn onlangs aan die Martial Arts Wêreldkompetisie deelgeneem het en drie goue medaljes ingepalm het. Sewe van Shotokan Suid-Afrika se studente het ook verlede jaar 11 medaljes huis toe gebring nadat hulle in Black Pearl in Engeland gaan deelneem het.

Fotos: Natasha Pretorius.
Tydens die inperking het studente aan die Arabiese Ope Aanlynkatakompetisie deelgeneem. Video’s van deelnemers word na die beoordelaars gestuur en dan word die deelnemers regstreek aanlyn beoordeel. Meer as 30 van Elmarie se studente gaan ook op 5 September aan die Mediterranean Karate Alliance se wêreldkompetisie teen 40 ander lande deelneem. Dit is ook ‘n aanlynkompetisie waarvan Elmarie en Marie beoordelaars vir Suid-Afrika gaan wees. Op Donderdag, 19 Augustus is Elmarie se studente gegradeer. Die nuwelinge was eerste en Anzel de Waal het haar Dinky blou gordel gekry, Henk Botje sy Dinky bruin gordel, Isak Conradie sy Dinky swart gordel, en Aubrey du Toit haar Pre-yellow 1 gordel.