Local sport

Muldersdrift se spiesgooier mik vir wêreldgoud

Muldersdrift se Jan-Hendrik Heymans gaan Suid-Afrika in Augustus by die Wêreld Atletiekbyeenkoms in Oregon verteenwoordig nadat hy hom as die wêreld se voorste o20-spiesgooier gevestig het.

Jan-Hendrik Heymans, ‘n talentvolle 18-jarige spiesgooier van Muldersdrift en eerstejaarstudent in Meganiese Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, is gekies om Suid-Afrika by die 2026 Wêreld Atletiekbyeenkoms in Oregon, VSA, te verteenwoordig.

Hy is een van net vyf NWU-studente wat hul plek in die Suid-Afrikaanse o20-span verseker het en sal in Augustus teen die wêreld se beste jong atlete meeding.

Jan-Hendrik vertrek egter nie bloot as deelnemer nie. Volgens Wêreld Atletiek se jongste ranglys vir o20-mansspiesgooiers is hy tans die wêreldnommer een met ‘n persoonlike beste afstand van 77.14m. Hy word gevolg deur Lev Klimenko van Rusland (75.05m) en Ruslan Sadullayev van Oesbekistan (75.01m).

“Dit is ‘n ongelooflike voorreg. Dit is baie spesiaal wanneer harde werk uiteindelik beloon word,” sê Jan-Hendrik.

Hy was besig om by die High Performance Institute in Potchefstroom te strek toe hy die nuus ontvang het.

“My eerste oproepe was aan my ouers. Dit is ‘n groot stap in die regte rigting.”

Jan-Hendrik saam met die Suid-Afrikaanse diskusatleet, Righardt Stander. Foto: Verskaf

Vyf jaar se voorbereiding

Hoewel Jan-Hendrik se sukses vir baie skielik mag lyk, lê jare se voorbereiding daaragter.

Die afgelope vyf jaar het hy hoofsaaklik op sy tegniek gefokus. Sy oefenprogram het die afgelope jaar uitgebrei na ses oefendae per week, aangevul met gereelde gimnasiumsessies.

Sy persoonlike beste van 77.14m met die 800g-spies plaas hom nie net boaan die wêreldranglys nie, maar gee hom ook selfvertroue vir die wêreldkampioenskap.

“Ek wil graag 80m gooi en ek hoop dit is goed genoeg vir ‘n goue medalje.”

Om studies en topsport te balanseer, was egter nie sonder uitdagings nie.

“My eerste jaar was ‘n groot aanpassing, maar ek begin nou weer ‘n goeie ritme kry. Die grootste uitdaging is wanneer toets- en kompetisiedatums met mekaar bots.”

Van Muldersdrift tot die wêreldverhoog

Jan-Hendrik se atletiekloopbaan het by Laerskool Muldersdrif begin voordat hy na Helpmekaar Kollege is.

Volgens sy pa, Less Heymans, is sy talent reeds in graad agt raakgesien tydens ‘n talentidentifiseringsessie waartydens leerders ‘n krieketbal moes gooi.

Hy vertel Jan-Hendrik het reeds op laerskool ‘n skoolrekord verbeter en later die geleentheid gekry om deur van Suid-Afrika se bekendste spiesgooi-afrigters afgerig te word.

“Oom Jan het hom die basiese tegnieke by Ruimsig Stadion geleer, waarna voormalige Springbok-spiesgooier Hennis de Wet sy ontwikkeling op hoërskool voortgesit het. Oor naweke het Springbok-atleet Wilhelm Pauer verder aan sy tegniek geskaaf,” sê Less.

Vandag word Jan-Hendrik deur die legendariese Terteus Liebenberg by die NWU afgerig – dieselfde afrigter wat onder meer die Suid-Afrikaanse rekordhouer Marius Corbett en Olimpiese silwermedaljewenner Jo-Ane du Plessis afgerig het.

Jan-Hendrik saam met die medaljewenners in vroue-spiesgooi by die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk: Nikola Ogrodnikova van Tsjeggië (brons), Kitaguchi Haruka van Japan (goud) en Jo-Ané du Plessis van Suid-Afrika (silwer). Foto: Verskaf

Teleurstellings het hom gevorm

Soos baie topsportlui moes Jan-Hendrik ook teleurstellings verwerk.

Daar was jare waarin hy uitstekend gevaar het, maar geen internasionale byeenkomste beskikbaar was nie.

Volgens Less het sy seun verlede jaar weens ‘n administratiewe fout sy Suid-Afrikaanse kleure misgeloop.

“Ons was ongelooflik trots, maar ook baie verlig. Hierdie keer het alles uiteindelik vir hom ten goede uitgewerk.”

Vanjaar het Jan-Hendrik boonop tydens die Senior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe ‘n graad twee-hamstringskeur opgedoen, maar slegs ‘n week later steeds ‘n bronsmedalje by die USSA-kampioenskappe gewen.

‘n Familie se ondersteuning

Hoewel sy ouers erken dat atletiek finansiële opofferings verg, sê hulle dit was nog altyd iets wat die hele gesin geniet het.

“Ons het regoor Suid-Afrika agter byeenkomste aangery. Nou raak dit natuurlik ‘n ander storie – Oregon is darem ‘n entjie verder as Kaapstad,” vertel Less laggend.

Volgens sy ouers is hulle trots nie net op sy prestasies nie.

“Hy is presies dieselfde kind as wat hy nog altyd was, behalwe dat hy nou net ‘n bietjie verder gooi.”

Hulle beskryf hom as nederig, positief en diep gelowig – waardes wat volgens hulle ‘n groot rol in sy sukses speel.

Inspirasie vir ander

Jan-Hendrik sê die Tsjeggiese wêreldrekordhouer Jan Železný is die atleet na wie hy die meeste opkyk.

Aan jong sportlui op die Wes-Rand het hy ‘n eenvoudige boodskap:

“Moenie al jou hoop op net een ding plaas nie. Gryp elke geleentheid aan wat oor jou pad kom. Partykeer ontdek jy dat jy in iets heeltemal anders uitblink as wat jy ooit verwag het.”

Vir sy ouers is dit reeds ‘n droom wat waar geword het dat hy Suid-Afrika op die wêreldverhoog gaan verteenwoordig.

“’n Podiumplek sal ‘n bonus wees. Op die regte dag glo ons hy kan wen – en ons sal beslis nie nee sê daarvoor nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button