Noordheuwel se Armand skitter met nuwe SA rekord!
Hoërskool Noordheuwel se atlete het onlangs behoorlik geskitter deur puik te presteer by die Top 10 atletieknaweek te Mookgopong.
Met die afgelope Top 10 atletieknaweek te Mookgopong, aangebied deur Hoërskool Hans Strijdom, het Armand van der Walt die wêreld aan die brand gehardloop in die naellope vir o17’s.
Hy het in beide items tye gehardloop wat vinniger is as die huidige SA Jeugrekords. In uiters warm weertoestande het hy nie geskrik vir Hansies se harde en warm baan nie. In die 100m item was sy tyd van 10,19 sekondes net-net vinniger as die 10,20 SA rekord. In die 200m was sy uitstekende tyd van 20,29 sekondes 14 honderdstes vinniger as die nasionale rekord.
Die naweek het Hoërskool Noordheuwel se atlete behoorlik geskitter deur puik te presteer by die spog byeenkoms. Nories se puik gemiddeld van 904 punte vir 20 prestasies is die beste ooit! Armand is beloon as beste o17 atleet as ook beste naelloper van die byeenkoms. Miguel Correia do Ribeiro was beloon met beste o16 seun met ‘n puik 1 000 punte in die gewigstoot.

Die Top 5 skole in die kompetisie waar 110 spanne deelgeneem het was:
Meisies
• 1ste Prestige College 926
• 2de Randsburg 922
• 3de Noordheuwel 915
• 4de Menlopark 913
• 5de Zwartkop 894
Seuns
• 1ste Afrikaanse Hoër Seuns 934
• 2de Menlopark 933
• 3de Prestige College 893
• 4de Noordheuwel 892
• 5de Helpmekaar College 887
Algeheel
• 1ste Menlopark 923
• 2de Prestige College 909
• 3de Noordheuwel 904
• 4de Helpmekaar College 890
• 5de Zwartkop 881
Eerskomende naweek vind die NWU Top 30 plaas in Potchefstroom waar baie uitgesien kan word na ‘n rillerstryd in die naellope vir o17 seuns.
