Vermoorde het lewens aangeraak
Hy het 'n groot impak op die mense om hom se lewens gehad.
Die verloofde van Morné Nel (41) wat op 23 Mei koelbloedig deur rowers op hulle gehuurde kleinhoewe doodgeskiet is, beskryf hom as ‘n lewenslustige man wat soms weer kind geword het.
“Hy het daarvan gehou om saam met die kinders te speel en homself dan soos ‘n kind te gedra,” sê Heleen Moller.
Sy sê hy het ‘n groot impak op haar lewe en dié van die mense met wie hy in aanraking gekom het gehad en dit is nog moeilik om te aanvaar dat hy nie meer daar is nie.
“Hy was vir 17 jaar deel van my lewe as my beste vriend en ons was vir die laaste vyf jaar bymekaar. Ons het gereeld gespot dat ons nie meer die verskil tussen ‘n vriendskap en liefde ken nie.”
Moller het die NUUS vertel van die aand toe sowat vier gewapende rowers haar held en lewensmaat van haar weggeneem het.
“Ons almal was by die huis. Gerhardt (9) het 7de Laan gekyk terwyl ek en Nanna (soos hulle hom genoem het) besig was om ‘n legkaart te bou waarmee ons al ‘n week lank besig was.”
Die ander kinders Lisca (13) en Eric (11) was elders in die huis.
“Ons hond Dino het begin blaf en Nanna het by die gang afgeloer om te probeer sien waarom hy blaf. Toe hy niks sien nie het ons voortgegaan om die legkaart te bou, maar Dino het toe weer geblaf.”
Nel het opgestaan en by die gang afgeloop om te kyk of hy iets kan sien en hy het stil geword.
“Toe hy stil word het ek net besef iets is nie reg nie en oomblikke later skree hy net ek moet die kinders kry!”
Moller sê sy het gehoor hoe een van die rowers vir hom skree “Ek sal jou skiet!”. Toe hoor hulle die sowat vier skote wat uit ‘n .22-pistool gevuur is.
Nel het daarin geslaag om te vlug en het saam met die gesinslede na ‘n vertrek in die huis probeer hardloop. Hy het selfs ‘n krieketkolf in die rowers se rigting gegooi.
“Ek het die selfoon in die hande gekry en die polisie laat weet dat daar ‘n gewapende roof by ons huis plaasvind.”
Intussen het die rowers hulle goed begin steel.
“Ek het vir hom gesê hy is geskiet waarop hy geantwoord het dat hy gesukkel het om asem te haal.”
Nadat dit geklink het of die rowers die huis verlaat het, het Moller na die motor se sleutels begin soek.
“Hulle het ons huis heeltemal omgekrap en dit was ‘n gesoekery na die sleutels.”
Nel is na die motor gedra waarna sy met hom na die Life Fourways-hospitaal gejaag het.
“Dit het letterlik vier minute geneem om by die hospitaal te kom. Ek het op my horlosie gekyk en gesien dat ons omstreeks 7.21nm gery het en omstreeks 7.25nm by die hospitaal aangekom het.”
Sy sê sy laaste woorde aan haar, wat haar vir ewig sal bybly, voordat noodpersoneel probeer het om hom aan die lewe te hou was: “Bokka ek is lief vir jou.”
Sy vertel hoe die personeel alles in hulle vermoë gedoen het om sy lewe te red, maar ná 8nm is sy in kennis gestel dat hulle nie daarin kon slaag nie.
“Hy is my held – hy het so dapper probeer om by ons te bly. Ek is hom ewig dankbaar dat hy baklei het om my en die kinders te beskerm,” sê Moller.
Sy het aan die NUUS gesê dat twee fietse, ‘n skootrekenaar, ‘n wi-fi toestel, ‘n motor-DVD-speler en Nel se horlosie gesteel is.
Nel se roudiens is by die AGS Kerk in Carletonville gehou waarna ‘n verassingsdiens plaasgevind het.
Adjudant-offisier Hitler Ngwenya, ‘n polisiewoordvoerder van die Muldersdrift-polisie sê ‘n saak van huisroof is geopen en die polisie ondersoek die saak.