Petro Dansskool is tops
Dié dansskool kon daarin slaag om 12 spesiale toekennings tydens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dans se toekenningsgeleentheid in te palm.
Die Petro Dansskool in Rant-en-Dal het rede om vrolike danspassies uit te voer nadat meer as tien spesiale toekennings tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Instituut vir Dans (Sadi) se toekenningsgeleentheid ingepalm is.
Dié dansskool moes teen 13 ander deelnemende dansskole van regoor die land kompeteer vir die gesogte toekennings.
Petro de Lange, afrigter en eienaar van die Petro Dansskool sê haar skool het 124 solo items en 17 groep items in die DiscoJazz-, ModernJazz- en Hip Hop-afdelings ingeskryf.
“Baie geluk aan al ons dansers wat so uitsonderlik presteer het en 12 spesiale toekennings kon verwerf vir choreografie, sinchronisasie en vermaaklikheidsin,” sê Petro.
Wat dit nog meer besonders vir hierdie skool maak is dat nege van die dansers die aandag van Ashleigh Habgood, ‘n internasionale beoordelaar wat deel was van Sadi se toekenningsgeleentheid, se aandag kon trek.
Ashleigh is die direkteur en choreograaf van Neverland Productions in Nieu-Seeland en het ‘n span van dertig dansers uitgenooi om volgende jaar in April daarheen te gaan waar hulle ook die geleentheid sal kry om die jaarlikse tweedagse Phoenix Internasionale Dans Werkswinkel waar vyf top internasionale choreogawe hulle kennis sal deel.
Die volgende dansers het tydens die Sadi uitgeblink:
Mikayla Basson het ‘n A+ en ‘n spesiale toekenning vir haar Hip Hop studiosolo gekry, Hanri Lochner spog ook met ‘n A+ en ‘n spesiale toekenning vir haar Disco Studio solo en Jay Deane Joubert het ‘n A+ vir haar Hip Hop solo verwerf.
Die dansers wat hulle Noord-Gauteng Federasie Klere verwerf het is JayDeane Joubert, Dane Marais, Megan Botha, Cindi Henning, Jodi Gallop, Sharné Prinsloo, Shandré Galloway en Karli Pretorius. Karli is ook due Kampioenskap Beurswenner in die Disco Jazz afdeling.
“Ons beskou hierdie prestasies as ons hoogtepunt en is dankbaar dat ons dansende voetjies diep dansmerkies in ons harte dans vir herrineringe wat ons altyd sal koester,” sê Petro.
Petro sê dat die dansskool graag geld vir die toeruitgawes wil insamel en kan vir dansvertonings bespreek word deur haar by 072 376 8724 te bel.