Local newsNews

Vriende se dood laat ‘n leemte

Die dood van twee oudleerlinge van Hoërskool Bastion in 'n motorongeluk in Roodepoort word diep betreur.

“Hulle was van die ordentlikste mense wat ek geken het; om te hoor van hulle afsterwe was ‘n groot skok vir my.”

Só sê Dawie Oberholzer toe hy die tyding ontvang het dat twee van sy vriende Sondagoggend 30 Junie na ‘n motorongeluk in Helderkruin, Roodepoort gesterf het.

Chris Oosthuizen (25) en Stefan Botha (26), inwoners van Krugersdorp, was van ‘n kuierplek in Ouklipweg af op pad terug huis toe, toe die ongeluk op dieselfde pad plaasgevind het.

Inligting dui daarop dat Oosthuizen beheer oor die voertuig verloor het en in ‘n boom vasgery het.

Paramedici wat op die toneel was sê albei het met hulle aankoms nog gelewe en dat die reddingskake gebruik moes word om hulle uit die silwer VW GTI Golf te bevry.

Oosthuizen is op die toneel dood verklaar en Botha is in ‘n kritieke toestand per ambulans na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar hy voor 7vm die volgende dag op 1 Julie aan sy beserings gesterf het.

Oberholzer sê hy was nog saam met hulle by die kuierplek.

“Om vanoggend verby die toneel te ry was vir my ‘n baie rou oomblik. Dit is nog moeilik om dit te verwerk.”

Hy sê hy sal Oosthuizen se humorsin en Botha se gesteldheid op sy voorkoms en netheid baie mis.

“Om saam met hulle te kon kuier was altyd aangenaam, want hulle het jou altyd met ‘n warm vriendelikheid laat welkom voel.”

• Oosthuizen en Botha is oudleerlinge van Hoërskool Bastion.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button