Local newsNews

Motorfietsryer leef nou voluit

Die motorfietsryer wat in Maart in 'n ernstige ongeluk op die R24 Hoofrifweg betrokke was, vertel hoe dit met hom gaan.

Drie maande nadat Victor Cijster (22) ‘n ernstige motorfietsongeluk op die R24 Hoofrifweg oorleef het, glimlag hy breed en het ‘n nuwe uitkyk op die lewe.

Wanneer ‘n mens hom by sy huis besoek, steek hy die pyn agter ‘n glimlag weg en spreek hy eerder sy dankbaarheid uit dat hy gespaar is.

Tydens die ongeluk op 25 Maart toe hy agter in ‘n wit Isuzu-bakkie vasgery het nadat dié gestop het om by Geffinstraat in Mindalore in te draai, is drie van Victor se rugwerwels gekraak en is sy sleutelbeen, regterarm en -hand gebreek.

“Daar is ook beserings aan my bo- en onderkaak sowel as my verhemelte, wang- en neusbeen. Ten spyte daarvan is ek gelukkig om nog hier te wees.”

Hy sê daar lê nog ‘n lang pad voor voordat hy ten volle sal herstel.

“Vir die laaste paar maande ontvang ek elke week fisio vir my regterhand en my rug, en dit sal aanhou totdat dit weer beter is.”

Die fisioterapeut se werk kan reeds gesien word, want Victor kon tevore skaars sy hand gebruik en sy vingers beweeg.

“My rug raak ook beter. My fisioterapeut het gesê ek moet aktief besig bly en omdat ek myself wil aanspoor om beter te word, het ek begin om weer 4km te draf en elke dag te gaan stap.”

Vyf van sy tande is ook onlangs getrek omdat dit tydens die impak gebreek het.

“Met die ongeluk het ek sewe van my tande verloor en ek sal nou kunstande kry om my eie tande te vervang.”

Van die ongeluk kan hy nie veel onthou nie.

“Ek het eers ‘n week later in die hospitaal wakker geword en het groot geskrik toe ek al die masjiene om my sien. Ek het nie geweet waar ek was nie en omdat ek nog deurmekaar was, het ek die drup uit my arm getrek. Die verpleegsters was gelukkig gou daar om my te kalmeer.”

Hy was vir twee weke in die intensiewe sorgeenheid van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg voordat hy na die gewone saal oorgeplaas is.

Wat hy wel van die oomblikke voor die ongeluk onthou, is dat hy op pad na sy ouma Bettie toe was.

“My ouma het my ma Annemarie gebel om te vra waar ek was en toe sy hoor dat ek in die hospitaal as gevolg van ‘n ongeluk was, het sy dadelik daarheen gejaag.”

Toe hy gevra is of hy weer ‘n motorfiets sal besit of op een sal ry, keer hy gou en sê dat hy eerder vir hom ‘n motor sal kry.

“Ek wil nooit weer deur al daardie pyn gaan nie.”

Victor sê hy het nie ‘n idee wat met die bestuurder van die bakkie gaan gebeur nie, want die Krugersdorpse polisie het tot dusver nie verklarings kom neem nie.

“Ek wil nie die saak verder vat nie, want ek wil hê my lewe moet aangaan sonder daardie bagasie. Ek het ‘n nuwe uitkyk op die lewe en wil die beste daarvan maak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button