Markdag vir die gesin
Potjies se geur vul die neusgate en die lag van kinders klink vrolik op.
Dit was nie net die geur van pruttende potjies wat die neusgate tydens die Buzz Market van 30 Junie geprikkel het nie.
Die stryd om te sien wie die kroon as die potjiekoning aan die einde van die dag sal dra, het vir allerlei vermaak en opwinding gesorg, maar daar kon ongelukkig net een wenner wees.
Jannie Botha se heerlike potjie asook sy brood en biltong was volgens die beoordelaars asook beoordelaars wat uit lede van die publiek bestaan het, die smaaklikste en hy het met ‘n lekker groot prys weggestap.
Kort op sy hakke was sy broer Riaan Botha se potjie, en ‘n groep wat hulleself Die Plotselinge gedoop het, het die derde plek vir hulle potjie en ‘n tweede plek vir hulle brood gekry.
Na afloop van die beoordeling kon hulle die oorblywende kos verkoop en die geld wat hulle daaruit maak vir hulleself hou.
Zelda du Toit, die organiseerder van die Buzz Market sê sy was teleurgesteld met die opkoms tydens die markdag.
“Min mense het opgedaag ten spyte daarvan dat dit in die NUUS geadverteer is.”
Sy sê die dag word gehou om mense en gesinne uit die stad te kry en hulle die geleentheid te gee om ‘n bietjie te kom ontspan.
“Ons will hulle die geleentheid gee om die dag saam met ons te geniet. Die kinders kan vrylik rondhardloop en aan die pretaktiwiteite deelneem.”
Mense kan na die ware wat by die stalletjies uitgestal word, kyk en daarvan koop.
“Daar is ook stalletjies teen R100 beskikbaar waar mense hulle goedere kan aanbied en so vir hulleself ‘n bietjie geld kan verdien.”
Zelda sê sy bied ook liefdadigheidsorganisasies die geleentheid om op so ‘n manier geld in te samel. Friends of Rescued Animals (Fora) het dié dag boeke verkoop.
Zelda sê sy hoop om meer mense by die volgende markdag van 7 September te betrek.
Vir meer inligting kan mense haar by 071 506 4727 kontak.
