Tant Bettie vier haar 80ste saam haar ‘kinders’
Tant Bettie van Krugersdorp-Noord het op 80 ongeveer twintig tarentale wat by haar plak.

‘n Gesoute inwoner van Krugersdorp-Noord vier vanjaar haar 80ste verjaarsdag en sy het beslis ‘n interessante storie of twee om te vertel.
Bettie van der Merwe woon al sowat 35 jaar in Derdestraat en het ‘n paar geveerde vriende – ‘n trop tarentale – wat reeds 29 jaar daar by haar plak. “Tarentale is natuurlik baie interessante diere,” vertel tant Bettie.
Sy het voorheen 17 jaar vir Farmer Brown gewerk en was later ‘n aankoopbeampte en ontvangsdame voordat sy net voor haar 70ste verjaarsdag afgetree het.
Sy het 29 jaar gelede ‘n paar tarentale as geskenk ontvang en hulle het die afgelope paar jaar byna in ‘n kolonie ontaard.
“Die tarentale kom en gaan nes hulle wil.”
Hierdie tarentale word ook lekker bederf en peusel elke dag heerlik saam met tant Bettie se 23 hoenders aan die hoendervoermengsel.
Die tarentale het die vorige broeiseisoen in die veld ‘n entjie van haar huis af gebroei en daarna weer lojaal na tant Bettie se werf toe teruggekom.
Die tarentale se broeiseisoen is gewoonlik net na die eerste reën en duur van September tot November.
“Hulle wag gewoonlik vir die reën, anders is daar nie genoeg vog in die doppe sodat hulle dit kan uitbroei nie,” meen tant Bettie. Sy vertel ook aan die NUUS hoe die mense in die meenthuise gekla het oor die lawaai wat die wyfies tydens die paarseisoen maak.
Sy het al ‘n brief van die munisipaliteit ontvang oor klagtes dat haar pluimvee raas, maar die tarentale behoort nie aan haar nie.
“Die tarentale loop vrylik hier rond en word nie in hokke aangehou nie. Hulle is wild.”
Sy het al probeer om hulle mak te maak maar meen dis onmoontlik.
“Die probleem is jy kry hulle eenvoudig nie gevang nie. Hul is so skelm en slim, en vlieg baie vinnig weg.”
Tant Bettie, wat haar 80ste verjaarsdag op 3 Augustus vier, sê dat alhoewel dit haar tweede verjaarsdag as ‘n weduwee sal wees, troos sy haar daaraan dat haar tarentale steeds by haar is.