Sterkte, rugbyvriend
'n Gesellige ete is vir die destydse Transvaal-rugbykaptein Toy Dannhauser gehou om hom voorspoed met 'n heupoperasie te toe te wens.
Om vir die destydse Transvaal-rugbykaptein, Toy Dannhauser, voorspoed met ‘n heupoperasie toe te wens het ou rugbyvriende waaronder sowat tien oud-Springbokke is, ‘n gesellige ete vir hom by die Wes-Rand Unieklub in Krugersdorp gereël.
Toy, wat gedurende die sestigerjare ook ‘n staatmakerslot vir sy rugbyspan was, is op 18 Julie weens ‘n heupbesering in Life Robinson Privaat Hospitaal opgeneem en sê dat hy twyfel of dit ‘n rugbybesering is wat nou eers kop uitsteek.
“Ek dink dit is maar van ouderdom, jare se wear and tear,” sê hy grappenderwys.
Oor die ete en kuier wat vir hom gereël is, sê hy dit is iets wat ou rugbyvriende maar doen.
“Ons vergeet nie van mekaar nie en sal altyd daar wees om ondersteuning vir mekaar te bied. Dit is altyd ‘n lekker gevoel om te weet dat ons steeds na al die jare vriende gebly het.”
Onder die gaste was Toy se jarelange rugbyvriend en ‘n voormalige Springbok-slot en -flank, Frik du Preez.
Verskeie borge het ook tot die sukses van die dag bygedra.
Toy sê hy behoort vyf dae na die operasie weer terug by die huis te wees.
“Die dokter verwag dat ek al op die tweede dag sal begin stap en met fisioterapie begin.”
