Personeel gee weer hoop
Die damespersoneel van Laerskool Protearif het die inwoners van Cradle of Hope met lekkernye bederf.
Die damespersoneel van Laerskool Protearif het Nelson Mandela-maand op ‘n hoë noot afgesluit toe hulle die inwoners van Cradle of Hope met lekkernye bederf het.
Hesta du Plessis, ‘n onderwyser by dié skool sê hulle het besluit om hierdie niewinsgewende organisasie, wat na mishandelde vroue en kinders omsien, met goedere te verras omdat hulle weet wat die sowat 20 vroue die broodnodigste sal hê.
“Daar is 29 pakkies met toiletware oorhandig wat elke personeellid persoonlik volgens hulle eie keuse volgemaak het.
Koffiebekers volgepak met verskillende soorte koekies is ook oorhandig sodat die volgende koffiekuier bietjie meer spesiaal kan wees.”
Selfs die sowat 24 kinders het lekkernye soos koek en roomys ontvang.
Hesta sê dit is deel van hulle poging om iets in die gemeenskap terug te ploeg.
“Dit gaan beslis nie ‘n eenmalige gebeurtenis wees nie.
Dit gaan deel vorm van die projekte wat ons elke jaar doen waar ons verskeie organisasies in ons gemeenskap wil bystaan, al is dit met iets kleins.”
Melodie van Brakel, stigter van Cradle of Hope sê sy is dankbaar dat die skool na hulle uitreik.
“Hulle is dierbaar! Ons kan net duisende dankies sê, want Julie is gewoonlik die moeilikste maand vir liefdadigheidsorganisasies.”
Sy sê omdat Julie in die middel van die jaar is vergeet mense van sulke organisasies.
“Die behoeftes is baie meer gedurende hierdie tydperk en al wat ons deur dié maande kry is gebed.”
Michelle Mbua, wat haar vorige lewe van prostitusie en dwelms vaarwel toegeroep het, is ‘n duidelike voorbeeld dat Cradle of Hope moeders en vroue ophef wat na ‘n beter lewe streef.
“Dit is ‘n plek waar vroue van voor af kan begin.”
