Local newsNews

‘n Roosknop te vroeg gepluk

So het 'n ma haar dogter, wat in 'n fratsongeluk gesterf het, tydens haar begrafnis beskryf.

“Mamma was soos ‘n klein magneetjie – waar mamsie ingestap het, het mommy mense aangetrek.”

Só het Chanicque Foster, die oudste dogter van Ilana Fourie wat op 16 Augustus tydens ‘n fratsongeluk in Wilgeroodweg gesterf het, in ‘n laaste eerbetoon gesê.

Vriende, kennisse en familielede het op 22 Augustus by die laaste rusplek van Ilana by die Sterkfontein Begraafplaas byeengekom waar Johan Theron die diens waargeneem het.

Gedurende die diens het hy Ilana se lewe op aarde met boodskappies van naasbestaandes toegelig.

Haar man Daniel het in ‘n booskap gesê dat hy die herinneringe aan haar vir die res van sy lewe in sy hart sal hou.

“My liefste pop, ek gaan jou verskriklik mis. Ek soek jou oral in ons huisie, jy was alles in my lewe: my opstaan, my gaan slaap. Ek kon jou nie genoeg ge-sms en gebel het om jou stemmetjie te hoor nie.”

Hy vertel dat hy nog met baie vrae en min antwoorde sit.

“Waarom het dit met my liefste vroutjie gebeur? Sy was my steunpilaar en my GPS wat my op die regte pad gehou het.”

Ilana se jongste dogter Chanileé het in haar boodskap gesê dat sy nie voorbereid was om so gou van haar ma afskeid te neem nie.

“Dit alles voel nog so onwerklik, maar die Vader het ons belowe dat hy vir ons ‘n plek voorberei en ons sal kom haal om die ewige lewe saam met Hom in te gaan en saam met Hom te wees,” het sy gesê met verwysing na Johannes 14:3.

Sy het gesê dat daar nie ‘n dag verbygegaan het dat sy, haar suster en pa nie gehoor het hoe lief haar ma hulle het nie.

“Elke mens wat die eer gehad het om mammie te ontmoet, het mams se hart aangeraak, want mammie het met ‘n geestelike lig in mams geleef.”

Ilana se moeder, Kotie het in haar afskeidsbrief gesê dat sy haar raad en advies baie waardeer.

“Jy was altyd daar vir my – selfs in moeilike en onaangename tye. Ongelukkig het die Here my roosknop kom pluk voordat sy heeltemal oopgegaan het.”

Sy het gesê dat sy haar stem gaan mis, “maar jy sal altyd in my hart bly”.

Ilana word oorleef deur haar eggenoot, kinders, moeder en vier broers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button