Oorlede fietsryer was geliefde oupa
’n Geliefde oupa en fietsryer se lewe is skielik en tragies kortgeknip toe hy in ’n noodlottige ongeluk in Krugersdorp oorlede is.
“Hy was almal se oupi, pappa, vriend, mentor en eggenoot.”
Só onthou die familie die 75-jarige Petrus Jacobus Coetzee, wat op 27 Mei tragies in ’n ongeluk by die kruising van Voortrekkerweg en Paardekraalrylaan in Krugersdorp gesterf het.
• LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER: Cyclist killed at busy intersection
Volgens sy kleindogter, Mathilda Harmse, het Coetzee van sy fiets afgeklim om die pad oor te steek. Hy het vir die verkeerslig gewag om te verander en seker gemaak die pad is veilig voordat hy weer op sy fiets geklim het om verder te ry. Op daardie stadium is hy deur ’n voertuig getref.
Coetzee was op pad na sy nuwe woning by Sterlig Aftreeoord in Roodepoort.
Harmse het bevestig dat die familie nie tans verdere besonderhede oor die voorval bekend kan maak nie, aangesien die saak steeds ondersoek word.
Coetzee het 44 jaar lank as hysbestuurder by Driefontein in Carletonville gewerk voordat hy afgetree het en was volgens sy familie baie geliefd onder sy kollegas.
Hy was ’n rots vir sy gesin, ’n ware heer vir sy vrou en ’n mentor vir sy kinders en kleinkinders. Hy was ’n gesiene en gerespekteerde man in die gemeenskap,” het Harmse gesê.
Fietsry en dans was van sy grootste passies, terwyl sy familie hom beskryf as eerlik, stiptelik en altyd bereid om raad en ondersteuning te bied.
Een van die familie se mooiste herinneringe is hoe hy altyd met ’n groot glimlag by die hek gewag het wanneer mense kom kuier het, en hoe hy sy kleinkinders op sy fiets rondgeneem en stories vir hulle vertel het.

Volgens Harmse wil die familie hê mense moet Coetzee onthou as iemand na wie ander kon opkyk.
“Hy was die perfekte heer.”
Coetzee word oorleef deur sy vrou van 40 jaar, sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
’n Gedenkdiens word Vrydag om 12:00 by die Maranata Aanbiddingsentrum in Middelvlei gehou.
Lees volgende week se 12 Junie-uitgawe van die News vir ’n meer in-diepte artikel oor Coetzee.