Local newsNews

Voertuig in vlamme gehul: bestuurder ongedeerd

Man heelhuids uit brandende bakkie.

Motoriste het getwiet en verbygangers het geglo dat die bestuurder van ‘n uitgebrande Bantam-bakkie wat Vrydag 13 September by die R28 Hillsnax-afrit gestaan het, die voorval nie kon oorleef het nie.

Maar die bestuurder van die voertuig, Ettienne Mienie lag as hy oor die voorval praat en vertel dat hy bloot uit die brandende bakkie geklim het en ‘n geleentheid saam met ‘n polisieman werk toe gekry het.

“Ek het gesien dat ander motoriste my aandag probeer trek en later verneem dat hulle vlamme aan die agterkant van die bakkie gesien het, maar dis eers toe daar vlamme by die enjinkap begin uitkom dat ek onraad vermoed het.”

“Die bakkie het begin krag verloor en ek het stilgehou, uitgeklim, ‘n paar tree terug gegee en toegekyk hoe my bakkie in vlamme opgaan.”

Vir sy vrou Christine het hy blykbaar – getrou aan sy optimistiese aard – vertel dat sy bakkie “‘n bietjie gebrand het”.

“Ek het eers gedink dat die bakkie herstel kan word tot ek self na die toneel toe gery het waar daar net ‘n uitgebrande raamwerk oorgebly het,” vertel sy.

Christine is oortuig dat “‘n wonderwerk en die krag van gebed” haar man uit ‘n situasie gered het wat baie anders kon afgeloop het.

Sy het aan die NUUS vertel dat die tema wat hulle die vorige aand by die LFCC Bybelskool bespreek het wat oor aanvalle en beskerming gehandel het, deur die gebeure bekragtig is en dat ‘n vriendin van hulle selgroep die nag vantevore ‘n brandende voertuig in ‘n droom gesien het.

“Sy het reeds gebid voor my man teen sesuur in die bakkie geklim het om te gaan werk. Ek is oortuig dis wat hom gered het,” vertel sy.

Die Mienie-egpaar glo dat Ettienne moes oorleef om oor die wonderwerk te getuig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Check Also
Close
Back to top button