Inbreker kruip verniet onder seil weg
'n Inbreker is onder 'n seil betrap waar hy wou wegkruip.

‘n Vlaag van inbrake het onlangs die noorde van Krugersdorp en veral die Rant-en-Dal area getref, maar nadat die soveelste geval op die radionetwerk aangemeld is, het keelvol sektorpatrollie- en gemeenskapslede besluit om op Donderdag 19 September ‘n voorbeeld van ‘n inbreker te maak.
Volgens Rinie Oosthuizen van Krugersdorp Sektor 3 GPF het ‘n lid van die forum laat weet dat iemand besig was om by sy buurman se huis in te breek.
“Ons is omstreeks 3.30vm ingelig dat die verdagte ten tye van die oproep moontlik nog in die omtrek van Bodenstein Villas kon wees waar die inbraak plaasgevind het.”
“Omdat dit nog vroeg in die oggend was het ons met behulp van gemeenskapslede die strate in die area afgesper en daar was ‘n motor op elke hoek van die blok.”
Patrollielede wat die area goed ken het kort voor lank ‘n oop hek by een van die huise opgemerk en ondersoek ingestel.
Die verdagte is minute later in ‘n hoek van die erf met gesteelde goedere betrap en het gevlug.
Patrollielede het die verdagte agterna gesit en op sy spoor gebly ten spyte van sy poging om hulle af te skud deur oor drie kompleksmure te spring en oor die Krugersdorp-gholfbaan te hardloop.
“Die kat-en-muisspeletjie het uiteindelik tot ‘n einde gekom toe ‘n patrollielid die verdagte in Nightingale Villas – wat aan die gholfbaan grens – onder ‘n seil opgespoor het,” vertel Oosthuizen.
Die polisie is ontbied en die inbreker is gearresteer.
Sektor 3 bedank gemeenskapslede vir hul betrokkenheid en meen dat die arrestasie nie moontlik sou wees sonder hulle hulp nie.
