Drie sterf naby Lanseria
'n Egpaar is opslag dood toe hulle met 'n ander motorfietsryer gebots het.

Drie mense, insluitend ‘n egpaar, het hulle lewens op Erfenisdag 24 September verloor toe die motorfietse waarmee hulle gery het teen aan ‘n ander motorfiets gebots het.
Slegs een persoon het die ongeluk oorleef wat op die R512-pad (Malibongwerylaan) naby Lanseria plaasgevind het, berig Beeld.
‘n Ooggetuie wat anoniem wou bly het aan dié dagblad gesê dat ‘n man moes toekyk hoe sy vrou op haar motorfiets sterf toe sy met ‘n egpaar gebots het. Hy kon egter die botsing vermy aangesien hy voor gery het.
Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911 sê hulle was reeds dood toe paramedici op die toneel aangekom het.
“Albei die motorfietse het in vlamme uitgebars.”
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend en sal deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek word.
