Noordheuwel se Herbst op pad na Hyrox Wêreldkampioenskappe in Swede
Juan-Marié Herbst gaan later vandeesmaand in Stockholm meeding nadat sy binne haar eerste jaar in die sport vir die gesogte Hyrox Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het.
Binne haar eerste jaar in Hyrox is Juan-Marié Herbst op pad na die Hyrox Wêreldkampioenskappe in Swede.
Die Krugersdorp News het voorheen berig dat Hyrox-kompetisies altyd dieselfde formaat volg, wat uit 8km se hardloop en agt oefenstasies bestaan. Hierdie stasies behels verskeie oefeninge wat deelnemers se fisieke vermoëns toets, waaronder sled pushes, roeimasjiene, wall balls en lunges.
• LEES OOK: Juan-Marié domineer Hyrox Kaapstad
Herbst gaan van 18 tot 22 Junie in Stockholm deelneem in die Pro Women 30 tot 39- en Mixed Doubles 30 tot 39-afdelings, nadat sy reeds in November vir die kompetisie gekwalifiseer het.
Sy sê sy is baie opgewonde oor die kampioenskappe, maar terselfdertyd ook senuweeagtig en vasbeslote om goed te presteer.

Om voor te berei, oefen sy elke dag en soms twee tot drie keer per dag met ’n kombinasie van kragoefeninge en kondisionering.
Ek wil graag my persoonlike beste tyd verbeter. Die ideaal sal wees om in minder as ’n uur en vyf minute klaar te maak. Hoe nader ek aan ’n uur kan kom, hoe gelukkiger sal ek wees,” vertel sy.

“Ek het aan baie aspekte gewerk en ek glo my stasies en hardloop is albei redelik sterk. Die moeiliker stasies bly maar die sled push en sled pull. Alles hang af van omstandighede soos die matte waarop die sleds beweeg. Dit kan moeilik of maklik gly. Ons sal eers op die dag self ervaar,” voeg sy by.
Ek is baie dankbaar teenoor my geliefdes, die gemeenskap en my borge wat my deurentyd ondersteun,” het sy afgesluit.
